Die ondersoek rakende die moord op die 35-jarige Asiphe Mondli duur voort. Mondli se lyk is op Donderdag 8 Mei omstreeks 19:40 in Ongegund, Vredenburg, gevind. Hy is twee keer in die kop en drie keer in sy lyf geskiet. Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n saak van moord.

’n 58-jarige slagoffer van Yzerfontein het Woensdag 7 Mei omstreeks 23:00 gaan slaap. Omstreeks 03:00 die volgende oggend het stemme in die huis die slagoffer laat wakker skrik. Hy het opgestaan en hom in drie onbekende mans vasgeloop. Een van die mans was met ‘n mes gewapen en het hom daarmee gedreig. Die rowers het die slagoffer vasgebind voordat hulle met ‘n gehuurde voertuig en die slagoffer se persoonlike besittings gevlug het. Die voertuig is later verlate op die Weskuspad (R27) gekry. Die Darling-polisie ondersoek ‘n saak van huisroof.

’n 43-jarige man het op Vrydag 9 Mei in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van ‘n nagemaakte vuurwapen en ammunisie. Hy het na bewering op Woensdag 7 Mei omstreeks 08:00 in Matthew Goniwestraat in Middelpos mense met dié wapen gedreig. Die Saldanha-polisie ondersoek die saak.

Op Sondag 4 Mei om 13:00 is ‘n 59-jarige rondritsbestuurder se voertuig in Harderstraat, White City, met klippe bestook. Die slagoffer het hierna beheer oor sy voertuig verloor en teen ‘n paal gebots. Hy het

ernstige kopbeserings opgedoen en kon daarom eers die voorval op Vrydag 9 Mei aan die polisie rapporteer. Sy passasier het ook beserings in die botsing opgedoen. Die Saldanha-polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.

Die Malmesbury-polisie ondersoek twee sake van poging tot moord: Angelo Boltney (20) het Maandag 12 Mei in die Malmesbury-land-

droshof verskyn. Hy het na bewering op Donderdagoggend 8 Mei na ‘n 18-jarige man geroep wat hom glo in daardie stadium geïgnoreer het. Boltney het glo na die slagoffer gegaan en hom ‘n paar keer met ‘n mes gesteek voordat hy gevlug het.

‘n 37-jarige man moes in die Swartland-hospitaal vir veelvuldige beserings behandel word. Dit is egter nog onbekend waar die aanval plaasgevind het en wie die skuldige is.

 Op Saterdag 10 Mei het ‘n 54-jarige vrou van Laingville, St Helenabaai, wakker geword en twee onbekende mans in haar huis betrap. Die rowers het haar met ‘n vuurwapen gedreig en met verskeie artikels en ‘n groot bedrag kontant op die vlug geslaan. Die polisie ondersoek ‘n saak van huisroof.

** Weslander gee weekliks ‘n kort opsomming van die vorige week se misdaad in die versprei-

dingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article