Misdaad met geweld styg in Vredenburg, hoor GPF-lede

Geweldsmisdade soos moord, poging tot moord, huisroof en seksuele misdade in Vredenburg het toegeneem teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.


Geweldsmisdade soos moord, poging tot moord, huisroof en seksuele misdade in Vredenburg het toegeneem teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Kol. Roland Leibrandt van die Vredenburg-polisie het ’n vinnige oorsig gegee van die misdaadstatistieke van die afgelope ses maande tydens die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se maandvergadering Dinsdag (15 Oktober).

Hy het ook gesê kommersiële misdaad, soos die slenters met verkope op sosiale media, het ook gestyg. Hy het Weslander bedank vir gereelde verslaggewing oor die probleem om mense daarteen te waarsku en hulle daarvan bewus te maak.

Leibrandt het Witteklip en Louwville as brandpunte vir geweldsmisdade uitgelig, waarop die raadslid Leonard Mitchell, in wie se wyk Witteklip val, dit beaam het.

Mitchell het vertel waardeur die buurt op die oomblik gaan (lees ook die berig op bl. 5).

Hy bepleit glo al vir maande ’n buurtwag vir Witteklip, maar het ’n opdraandestryd om die registrasie deur te kry.

Jean Retief, die voorsitter van die GPF, het verduidelik dat dit behoorlik ’n beslommernis is om enige nuwe buurtwag te registreer. Hy het ook sy bekommernis uitgespreek oor die toename in geweldsmisdade. “Om agter ’n toonbank te werk, word nou baie gevaarlik. Die skelms weet dat daar geld in omloop is.”

Die groep karwagte in Breëstraat is ook as ’n knelpunt geopper, met die algemene konsensus dat Vredenburg dringend ’n plek van veiligheid benodig.

Wetstoepassingsbeamptes, het Schaffers verduidelik, kan ook nie meer doen as om net verdagte optredes te monitor en mense wat verdag lyk, te deursoek nie.

Hulle het nie die mandaat om enigiemand in hegtenis te neem nie.

Sammy Springleer van die Oudorp-buurtwag het verwys na vroeër jare toe straatslapers deur die polisie opgeraap is om die nag in die selle deur te bring en hulle uit die kwaad te hou. Weens nuwe wetgewing mag die polisie dit egter nie meer doen nie.

Denzil Holloway, die nuwe voorsitter van die Ou Dorp-buurtwag, het verwys na die skoolkinders wat van Louwville na die New Vredenburg High School stap. Dit maak mense bekommerd, veral vir die kinders se veiligheid. Die kinders is ’n maklike prooi vir grypdiewe en rowers aangesien hulle van agterpaaie gebruik maak wat hulle van hul huise na die skool toe neem.

Springleer het na die gebreekte-venster-filosofie verwys en beklemtoon dat die klein misdadighede eers getakel sal moet word om groter misdade te voorkom.

Die oud-polisiebevelvoerder Christo de Wet, voorsitter van die Tierkloof-buurtwag, het gesê dié buurt ervaar ook ’n skielike toename in huisbrake, met verskeie huise wat meer as twee keer oor dieselfde naweek geteiken is – selfs terwyl die mense nog in die huis is.

Hy het verwys na sogenaamde dromkrappers wat eerder kom rondkyk as om werklik arm mense te wees wat kom kos soek.

Die oprigting van munisipale kameras het heftige debat ontlok omdat sakelui ná inbrake by hul ondernemings sukkel om beeldmateriaal te kry.

Die sakekern van Vredenburg loop behoorlik deur onder inbrake en vandale wat die winkelruite en glasdeure byna daagliks stukkend slaan, al verleen dit nie noodwendig toegang tot die onderneming nie.

Die bestuur van die GPF het daarom gehoop dat meer sakelui die moeite sou doen om die vergadering by te woon.

You need to be Logged In to leave a comment.