Die voortslepende geweld in Saldanha het die lewe van nóg ’n man geëis.
Delvin Settley (30) se lyk is verlede Woensdag (13 November) tussen Spinnerstraat en Dolpenstraat (Harvest Sunstraat) gekry.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes omstreeks 22:00 op ’n klagte oor ’n skietery in Hopland gereageer.
Met hul aankoms op die toneel was Settley reeds dood nadat omstanders twee skote gehoor het. Hy is twee keer in die rug geskiet.
Die volgende oggend om 06:00 het drie mans gewapen met messe ’n 36-jarige Namibiese burger in sy blyplek in Trireemstraat, Hopland, aangeval. Dié rowers het spesifiek vir “R200” gevra, wat die slagoffer toe aan hulle gegee het.
’n Stoeiery het ontstaan waarop die slagoffer in die arm gesteek is. Een rower het die man ook in die kop gesteek voordat hulle gevlug het.
In nog ’n geweldsvoorval het ’n rower ’n 29-jarige klaer Saterdag omstreeks 05:00 in sy blyplek in Diazville oorval en met ’n mes gedreig. Die rower het met R300 te voet gevlug. Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.
Twee skote is daardie aand omstreeks 20:40 in Basil February-weg in Hopland op ’n 20-jarige man afgevuur toe hy nie vir die aanvaller kon sê waar ’n sekere mens is nie. Die slagoffer is nie gewond nie en het na veiligheid gehardloop. ’n Saak van poging tot moord word ondersoek.
In nog ’n voorval in Hopland ’n paar uur later – Sondagoggend omstreeks 01:40 – het die aanvaller weer twee skote kort ná mekaar afgevuur en ’n 31-jarige man byna doodgeskiet.
Die slagoffer was in sy blyplek in Kluwerstraat toe iemand aan die deur kom klop het.
Hy het dit oopgemaak, waarop die aanvaller twee skote op hom afgevuur het, sonder om ’n woord te sê.
Die slagoffer is in die been en arm gewond en die aanvaller het van die toneel af weggehardloop. Nog ’n saak van poging tot moord is geopen.
AO Heinrich Schmidlin van die Saldanha-speurtak vra mense met inligting oor die moord op Settley om met hom in verbinding te tree by 079 894 1823.