Altesaam R3,49 miljard van die provinsiale begroting vir 2018-’19 wat binnekort ter tafel gelê word, is aan die Weskus-distrik toegeken.

Die Wes-Kaapse minister van finansies, dr. Ivan Meyer, het Saldanha Maandagoggend besoek waar hy hierdie aankondiging by ’n vergadering in die veeldoelige sentrum in White City, Saldanha gemaak het.

Meyer het die bestuurders en leiers van die vyf munisipaliteite wat deel van die groter Weskusdistrik-munisipaliteit is, toegespreek.

Die R3,49 miljard is as volg toegeken:
Saldanhabaai: R848,4 miljoen,
Swartland: R869,4 miljoen,
Bergrivier: R356,5 miljoen,
Cederberg: R457,3 miljoen en
Matzikama: R361,5 miljoen.

’n Verdere R598,2 miljoen sal vir ander projekte in die distrik opsygesit word.

Volgens Meyer is ’n aansienlike bedrag van R2,5 miljard aan die Weskusdistrik vir provinsiale infrastruktuur toegeken. R1,1 miljard sal aangewend word vir die opknapping en verbetering van paaie binne die gebied.

Voorbeelde van plaaslike infrastruktuur-projekte met betrekking tot onderwys is Redelinghuys Primêr waarvoor R18 miljoen begroot word en Middelpos Primêr in Saldanha waarvoor R53 miljoen toegeken is.

Meyer het aan die verteenwoordigers van die onderskeie munisipaliteite gesê opknapping van nuwe infrastruktuur mag nie versuim word nie. Hy sê ’n billike deel van die infrastruktuurbegroting moet aan opknappingswerk toegeken word.

“Wanneer iemand geld leen, kyk die bank of hy na sy bates omsien aangesien die bank sy geld uit die bates sal moet verhaal as die lening nie terugbetaal word nie,” het Meyer verduidelik.

Dit is sy mening dat die vyf Weskus-munisipaliteite se 2018-’19-begrotingstoekenning aan opgradering en opknappingswerk van infrastruktuur wel goed daaruit sien.

Meyer het ook uitgewys dat die nasionale tesourie na raming ’n inkomstegaping van R48,2 miljard vir die boekjaar 2017-’18 bepaal het.

Dit beteken dat R144 miljoen van die provinsie se begroting in 2018-’19 gesny word, R166 in 2019-’20 en R177 in 2020-’21.

Volgens Meyer is die begroting vir 2018-’19 gefokus op die voortsetting van die belofte wat in 2009 aan burgers gemaak is – dat die beplanning vir provinsiale begrotings altyd die mees weerlose inwoners van die samelewing sal beskerm.

Ondanks minder geld van die nasionale tesourie het die Wes-Kaap sy begroting vir onderwys, gesondheid en maatskaplike dienste vergroot.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het R69,87 miljard oor die tydperk van 2018 se raamwerk vir mediumtermyn-uitgawes gekry. In dieselfde tyd het die departement van gesondheid R72,4 miljard ontvang en die departement van maatskaplike ontwikkeling R7,1 miljard.

Meyer het benadruk werkskepping is steeds die grootste prioriteit en ontwikkeling van die toekomstige werksmag begin by vroeëkinder­ontwikkeling en grondslagfase-onderwys.

Volgens hom sal die fokus op die verbetering van die standaard van tale en wiskunde in skole verskerp word ten einde die uiteindelike matriekslaagsyfer en die gehalte van die slaagsyfer te verbeter.

Hy het die leiers van die vyf Weskus-munisipaliteite gemaan om voortdurend aan hul verhoudings met inwoners, rolspelers en buitelandse ambassadeurs te werk om sodoende goeie resultate te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.