“Nothing about us without us!”
Hoewel Saldanhabaaiers die nasionale minister van ekonomiese ontwikkeling geprys het vir sy besoek, was almal dit eens dat die tyd vir praat nou verby is.
Minister Ebrahim Patel het Maandag 5 Desember met werkgewers en werksoekers in die Diazville-gemeenskapsaal beraadslaag.
Patel het aandagtig na kommentaar en vrae van die paneel plaaslike rolspelers sowel as van Jan Alleman geluister.
Hy sê die Weskus – spesifiek Saldanha – sal binnekort ’n “enjin van ontwikkeling” wees en mense moet op grondvlak gereed wees daarvoor.
Morgan de Beer, verteenwoordigend van die Saldanha Bay Business Partnership, sê mense is reg vir die ontwikkelings, maar nie noodwendig gereed nie. “Ons hoor gereeld ons mense is ongeskoold en hier is ’n gebrek aan infrastruktuur en hulpbronne. Dit gebeur te gereeld dat ons mense beroof word van geleenthede deur buitestanders weens ’n gebrek aan nodige vaardighede.”
De Beer, sakevrou Verna Asia, Elmondo Paulse van Transnet en Benedicta Mahlangu van die Saldanhabaai Nywerheidsontwik-kelingsone (NOS/IDZ) was op die paneel.
Asia sê sy is bekommerd Saldanhabaaiers gaan uiteindelik die minste voordeel uit die ontwikkelings, soos die olie-en-gas-hub, ontvang. Die gehoor het begin hande klap toe sy sê dit blyk werk word slegs deur middel van omkopery uitgedeel.
“Hulle kan my dalk haat vir wat ek sê, maar dis tyd om eerlik te wees. Ek is bekommerd oor my mense. Ons moet ons besighede op die nodige vaardigheidsvlak begin kry, anders sal die werk ons verbygaan,” meen Asia.
In antwoord op die tien vrae vanaf die gehoor het Patel gesê die frustrasies van inwoners is ooglopend. “Julle het my met huiswerk gelaat, so hier is huiswerk vir julle. ’n Voorstel vanuit die gehoor was dat julle meer georganiseerd moet word en dit is beslis die geval. Kyk na die moontlikheid van koöperasies,” het Patel voorgestel.
“Uiteindelik wil ons hê die NOS moet ’n blywende impak op die gemeenskap hê. En dit moet van so ’n aard wees dat julle hier selfonderhoudend moet wees wanneer ons oor vyf of tien jaar ’n nuwe NOS stig.”
Indien die Saldanha-NOS se planne na verwagting verloop, kan bouwerk aan die eerste fabrieke vir die NOS vroeg volgende jaar begin sê Patel.
. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, het onlangs aangekondig R100 miljoen is ter ondersteuning van die nywerheidsontwikkelingsone in Saldanhabaai, geskenk. Dié geld is gebruik om grond naby die Saldanha-poort aan te koop wat ’n gedeelte van die nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) sal uitmaak.
Dit sal volgens Winde die NOS in staat stel om mededingende pakkette aan beleggers te bied.