Beamptes tel en sorteer kreef en kreefsterte wat Januarie in die besit van vermeende kreefstropers in Elandsbaai gevind is.


Dit het die mens net ’n bietjie langer as ’n eeu geneem om 98,6% van die kreef aan die Weskus uit te roei.

Hierdie inligting kom direk van die departement van omgewing, bosbou en visserye se visseryebestuur-afdeling (Deff).

Dit is ’n voldonge feit dat die see se spens deesdae nie naastenby so baie kreef soos in toeka se dae oplewer nie.

Die ouer geslag vertel graag aan jonger mense hoe volop die kreef hier aan die Weskus was, hoe reusagtig die krewe was wat hulle uit “geheime” diep gate in skynbaar vlak rotspoele gehaal het, en hoe maklik dit was om sommer baie kreef op ’n keer te vang.

Hierdie gloriedae is egter lankal verby weens die oorbenutting en oorbevissing van hierdie kosbare natuurlike hulpbron.

Volgens amptelike inligting van die Deff het die hoeveelheid Weskus-kreef (Jasus lalandii) sedert die 1960’s skerp begin daal.

Kommersiële oeswerk van Weskus-kreef het in die laat 1800’s begin en in die vroeë 1950’s ’n hoogtepunt bereik toe ’n jaarlikse vangs van 18 000 ton gelewer is.

Tradisioneel is kreef voor die 1960’s met hoepelnette gevang en van 1965 is meer doeltreffende lokvalle en gemotoriseerde bote ingespan. Vangste het gedurende die 1960’s met byna die helfte tot 10 000 ton verminder en oor die volgende paar dekades skerp gedaal. Teen 2013 is net sowat 2 000 ton kreef per jaar gelewer.

Die afname in vangste is glo te wyte aan ’n kombinasie van veranderinge in visvangmetodes en doeltreffendheid, veranderinge in bestuursmaatreëls, oorbevissing, omgewingsveranderinge en laer groeikoerse.

Weskus-kreef was in 2016 groot nuus toe dit die Suid-Afrikaanse Volhoubare Seekos-inisiatief (SASSI) se rooilys van bedreigde spesies gehaal het.

Volgens die Deff is ’n aantal bestuursmaatreëls al reeds so vroeg soos die vroeë 1930’s ingestel om die spesie beter te beskerm en die kreefbevolking toe te laat om te herstel. Die situasie het oor die dekades heen soms vir kort tydjies verbeter, maar oor die langer termyn kan ’n duidelike skerp afwaartse kurwe in die syfers gesien word.

Weslander het vertroulik verneem onwettige kreefstropery speel ’n groot rol in die uitputting van die Weskus se kreefbron. Hy sê stropery is ’n geweldige groot uitdaging en stropers was die afgelope twee maande van Brand se Baai in die noorde tot Yzerfontein in die suide baie aktief. Die meeste gevalle was in Elandsbaai en omliggende gebiede.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het die kreefinspekteur se stelling beaam en gesê sedert die begin van Januarie is heelwat stropers met groot hoeveelhede onwettige kreef in hul besit in die Elandsbaai-omgewing op heterdaad betrap.

In een van hierdie gevalle, wat oor die eerste paar dae van die nuwe jaar plaasgevind het, het die Elandsbaai-polisie tydens roetinepatrollies ’n verlate voertuig by ’n skeepshelling in Elandsbaai gewaar. Hulle het ook ’n man gesien wat na ’n voertuig daar naby stap. Die beamptes het gaan ondersoek instel en ’n sak vol ondermaat-kreef agter in die voertuig ontdek. Die man (40) het bevestig dat die voertuig aan hom behoort. Die verdagte, ’n inwoner van Lambertsbaai, is in hegtenis geneem en die polisie het op die voertuig beslag gelê.

Beamptes het die voertuig by die Elandsbaai-polisiekantoor verder deursoek en nog ’n sak vol kreefsterte gevind.

Die polisie het op altesaam tien ondermaat krewe en 176 kreefsterte beslag gelê. Die saak word deur Malmesbury se veediefstal- en bedreigdespesieseenheid ondersoek.. In nog ’n onlangse geval is roetinepatrollies in Elandsbaai uitgevoer en ’n verdagte voertuig is in Katjiepieringstraat voorgekeer en deursoek. Altesaam 942 kreefsterte is in die voertuig aangetref, en drie verdagtes – onderskeidelik 49, 44 en 36 jaar oud – is weens die besit van ondermaat krewe in hegtenis geneem.

Beamptes van die Deff het nog ’n verdagte voertuig in Hoofweg, Elandsbaai, gesien en die polisie vir bystand ontbied. By nadere ondersoek het hulle 46 ondermaat krewe; 12 heel krewe en 778 kreefsterte in die voertuig gekry. Vier mans tussen 28- en 55-jarige ouderdom is in hegtenis geneem.

Belemane Semoli, die waarnemende adjunk-direkteurgeneraal van visseryebestuur by die Deff, het in Oktober verlede jaar ’n openbare kennisgewing uitgereik om belangrike inligting ten opsigte van die huidige kreefseisoen vir kommersiële doeleindes, bestaansvissers en rekreasie-doeleindes aan te kondig.

Volgens hierdie kennisgewing is die maksimum toelaatbare kreefvangs vir die 2022-’23-visvangseisoen met 21,4% verminder vanaf die vorige visvangseisoen van 2021’22.

Studies het bepaal die hulpbron is tot ongeveer 58% uitgeput teenoor die minimum herstelteikenvlak wat in 2006 ervaar is. Dit is aansienlik laer as die 70% geskatte beraming in die 2021-ontleding.

Die hulpbron staan nou op slegs 1,4% van sy voormalige, ongerepte bevolking soos in 1910 bepaal is.

Dit is ’n misdaad om kreef sonder ’n permit te vang, om dit te verkoop sonder die nodige toestemming en permit, of om kreef by ’n straatverkoper te koop.

Kreefpermitte is teen R94 by die poskantoor beskikbaar. Dit is egter hierdie jaar vir net 12 dae vir rekreasie-vissers om te maag kreef, beskikbaar gestel. Nege van hierdie dae was vir Desember en een in Januarie uitgesit. Daar is dus nog twee dae oor waarop ontspanningsvissers met permitte wettig kreef mag vang – op 8 en 9 April.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025