Die bloed het dié afgelope naweek aan die Weskus gespat. Foto ter illustrasie. Foto: Phoebe T | Unsplash

‘n Besem, ‘n bierbottel en selfs ‘n stuk yster is die afgelope naweek in argumente in die Weskus in woede gegryp om iemand anders “ ’n les te leer”.

Volgens kapt. Tania Helfrich, distriks- woordvoerder vir die Weskus-polisie, het Johannes Bersens (36) iewers in die na-nag van verlede Saterdag (20 September) die 39-jarige ma van sy kinders met ‘n besem aangerand. Hy het die afgelope Maandag (22 September) in die Malmesbury-landdroshof op ‘n aanklag van aanranding verskyn.

Só het ‘n 17-jarige seun van Porterville weer ‘n gebreekte bierbottel gegryp en ‘n 50-jarige man daarmee aangerand. Dié minderjarige het die afgelope Dinsdag (23 September) in die landdroshof verskyn.

Op Klawer het die 20-jarige Romario Mienies verlede Donderdag (18 September) sy ouma (67) aangerand en gevloek toe hy vir haar kos vra en sy hom sê dat sy besig is om brood te bak. Mienies het die afgelope Maandag in die landdroshof verskyn.

Verlede Saterdagoggend, omstreeks 01:00, het ‘n 67-jarige vrou van Piketberg wakker geword van ‘n geraas in die huis. Sy het ondersoek ingestel en gesien hoe haar pleegkind, Monray Goliath (25), met haar dogter baklei. Sy het tussenbeide getree, waarop Goliath haar glo met ‘n stuk yster oor die kop geslaan het. Hy het die afgelope Maandag 22 September in die landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025