Alida Buckle

Besoekers aan die Weskus Mall wat op Dinsdag 15 April in die omgewing van die Food Court was, moes geskok toekyk hoe ‘n man met ‘n mes aangeval word.

Die aanvaller, ‘n 28-jarige Zimbabwiese burger, het met ‘n 25-jarige man wat in The Daily-koffiewinkel gesit het in ‘n rusie betrokke geraak.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die 25-jarige aan die man beduie dat hulle in die Food Court moet gaan gesels. Die slagoffer het glo aan die man gesê dat hy nie verder oor die saak, skynbaar ‘n vrou, wil praat nie en het omgedraai om terug te gaan na die koffiewinkel.

Die 28-jarige het hom hierop met ‘n mes in die rug gesteek. Hy het omgedraai om homself te beskerm en is toe ook in sy hand gesteek.

Die veiligheidswagte van die winkelsentrum het intussen aangehardloop gekom en kon dit regkry om die aanvaller in bedwang te bring. Die polisie is laat kom, wat die man in hegtenis geneem het.

Hy het op Woensdag 16 April in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Dié klagte mag dalk in die hof verander word na poging tot moord.

Die Weskus Mall se bestuur het sy personeel ná die voorval geprys omdat hulle so vinnig gereageer het.

“Die veiligheid van ons kopers, huurders en personeel is altyd ons topprioriteit. Ons bly daartoe verbind om ‘n veilige en verwelkomende ruimte vir almal by Weskus Mall te handhaaf.”

Hulle versoek besoekers wat dalk die voorval gesien of beeldmateriaal vasgevang het om dit na Weskus Mall te stuur om te help in die ondersoek na die voorval.

Skakel hulle by 022 703 6900.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 22 January 2026
    Weslander E-Edition – 22 January 2026

Gift this article