“Ek het gekry, daarom gee ek terug.”
Só verduidelik Merle Dietrich (49) van Goedverwacht, ’n Morawiese gemeenskap tussen Velddrif en Piketberg, waarom sy haar lewe daaraan wy om dié plek uit te bou en op te hef. Sy is ons Augustus-entrepreneur.
Merle bestuur die plaaslike sakebedrywighede op verskeie maniere saam met die kleinboere en ander entrepreneurs. Die Jazz-fees, wat op 16 of 17 Desember gehou gaan word, is maar een voorbeeld daarvan. Anders as die snoek-en-patatfees wat jaarliks in Junie gehou word, gaan die fees spog met rankgewasse soos waatlemoene, asook ander groente en vrugte soos tamaties.
Hiervoor het die kleinboere hulle grond, volgens Merle se aanwysing, in twee verdeel, sodat hulle eers gewasse vir die Snoek-en-patat-fees kon kweek, waarna die stukke grond eers rus. Op die oomblik word vir die Jazz-fees aangeplant.
Dit is sulke raad van Merle wat die gemeenskap se jaarlikse inkomste uit kool binne drie jaar van R10 000 tot vanjaar se R300 000 laat styg het.
Wat Merle laat goed voel is as mense die “programmetjies” wat sy vir hulle uitwerk volg en dan hul winste verbeter. “Dan kry jy ’n happy huis. Hulle kan ‘n ryding koop. Kos vir die kinders.”
Die feit dat haar insette die gemeenskap op ’n pad na vooruitgang gedraai het, is ’n gevoel wat geld nie kan koop nie. “Die mense is meer sakebewus. Meer mense kyk nou na hoe hulle ook iets kan maak om ’n ekstra geldjie in te bring.”
Merle het op Goedverwacht skoolgegaan en is later na Bellville-Suid waar sy gematrikuleer het.
Die geld vir die B.Com-graad by die Universiteit van Wes-Kaapland wat sy hierna behaal het, is betaal uit lemoen- en naartjiegeld. Sy moes self pluk en sorg dat dit verkoop word.
Sy het gaan onderwys gee, al het sy in haar hart altyd geweet dat sy in landbou wil wees. As kind het sy voor skool met haar rugsakkie op, die beeste eers weiveld toe geneem. Ná skool moes sy in die tuin skoffel of vrugte of groente pluk. Vier uur was dit varke kos en water gee. “Ons het speel-speel verantwoordelikheid geleer.”
Sy het die onderwys gelos vir entrepreneurskap en sedertdien het sy al ’n hoër sertifikaat in landbou en ’n agritoerisme-sertifikaat by Elsenburg voltooi.
Deur die Goedverwacht-toerisme-ontwikkelingsforum kon Merle al onder meer ’n bakkery en ’n museum oprig. Sy help oral met bemarking, produkbeplanning en verspreiding. Van die mense werk al tien jaar of langer saam met Merle.
Sy doen jaarliks ook die Heideveld Koöp in Niewoudtsville se organiese inspeksies. Die geld wat die feeste inbring word weer aan die gemeenskap uitgedeel: die rugbyklub het nuwe truie gekry, waarin hulle volgens Merle nog nie verloor het nie; die Basuinkoor het geld vir musiekinstrumente gekry; die museum is opgradeer en verder kry verskillende groepe gereeld ’n geldjie om aan te gaan soos die huisvlytgroep en die broedersvereniging.