Die as van vermoedelik mense wat na bewering vroeër vanjaar oorlede is, is op Saterdagoggend 19 April tydens ‘n padblokkade langs die R27-snelweg naby Ganzekraal gevind.
Jakkie van Litsenborgh, betrokke by die Weskus-distriksmunisipaliteit se landelike veiligheid, het op die toneel van gestrooide hope as afgekom tydens die padblokkade, wat in samewerking tussen die WKDM en die Suid-Afrikaanse polisiediens gedurende Paasnaweek van stapel gestuur is. Hy het die ontdekking as “skokkend” beskryf. Die as, wat vermoedelik stukkies beendere ingesluit het, is saam met naamplaatjies van mense wat gedurende Januarie en Februarie vanjaar dood is, gekry. ‘n Kartonhouer, kenmerkend van die Onafhanklike Krematorium van Suid-Afrika, ICSA, is ook op die toneel ontdek.
Volgens die bevelvoerder van die Darling-polisiekantoor, kapt. JJ Otto, is die voorval as ‘n “onwettige storting” by hulle aangemeld. “Ons is tans besig met ‘n ondersoek nadat ‘n navraag geopen is,” voeg hy by.
Die Darling-polisie hanteer die saak in samewerking met gesondheidsowerhede en die Weskus-distriksmunisipaliteit.
Geen verdere besonderhede is intussen bekend gemaak nie.
Volgens Lourene Dippenaar van Doves-begrafnisdienste in Malmesbury het ICSA drie takke wat deur begrafnisondernemers in die Wes-Kaap vir verassingsdienste gebruik word. Die enigste tak van ICSA wat egter tans ope- rasioneel is, is die Maitland-tak. Sy meen die voorval is ongewoon en voeg by dat beendere na regte nie tussen die as hoort nie. Dippenaar sê die as is gewoonlik in kartonhouers, soos dié op die toneel gevind, wat van die krematorium af ontvang word. In die houer sal daar ‘n sertifikaat met ‘n plaatjie wees om seker te maak die as behoort aan die regte oorledene. “Die begrafnisondernemers sal dan die as in ‘n kissie gooi en dit aan die kliënt of familie saam met die sertifikaat en die plaatjie oorhandig.”
Navraag is aan ICSA se Maitland-tak gerig om vas te stel watter begrafnisondernemers die betrokke mense wie se naamplaatjies op die toneel gevind is, na hulle gestuur het om veras te word. Geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.

