Die ekonomie byt almal aan die g*t op die oomblik.
Getuienis daarvan is die hoeveelheid motorhandelaars en ander sakeondernemings wat die afgelope tyd in Vredenburg alleen hul deure gesluit het.
Dit kom dus nie as ‘n groot verrassing dat die Eigelaar-groep besluit het om drie ikoniese restaurante te sluit nie. Die Hoedjiesbaai-, Laaiplek- en Riviera-hotelle se restaurante sal vir altyd ‘n baie spesiale plek in Weskussers én toeriste se harte hê.
Wegneemetes is vinnig en maklik – dalk goedkoper – maar om in een van dié restaurante te kon sit en eet, was altyd ‘n besonderse uitstappie; ‘n oomblik ver weg in ‘n plek met styl én heerlike kos.
Maar, soos wat dit maar aan die Weskus gaan, is daar altyd ‘n nuwe eetplek om te gaan beproef, ‘n nuwe venue . . .
Vir semigrante van elders is ou instellings nie noodwendig deel van hul daaglikse tradisies nie. Die Weskus is tree vir tree besig om heeltemal kosmopolitaans te word.
Die beeld wat binnelanders nog van die Weskus voorhou – ongerepte strande en witgekalkte huisies – is nog net ‘n vae
herinnering vir die inwoners van die Saldanhabaai- en Bergrivier-munisipaliteite, wie se daaglikse werklikheid hier is.
‘n Mens kan maar net hoop die paar historiese instellings wat nog staande bly, kry dit reg om die toets van tyd te deurstaan.




