Ons weet die winter is op ons voorstoep sodra Paasnaweek aangebreek het. My ma het altyd gesê sy verstaan nie hoekom mense altyd so graag oor Paasnaweek wil kamp nie; dis immers presies wanneer die groot reën begin en die koue soos ‘n ongenooide gas opdaag. Dis nou net ‘n resep vir siek raak, sou sy dan byvoeg.
Net voor hierdie koue kry ons eers die waarskuwing … dis nou waar jy in een dag al die seisoene beleef. Daarna tref die winterreën jou.
Eers besef jy jou plakkies moet dadelik verruil word vir jou warm boots met die wol binne-in en dan besef jy die dun truitjies gaan ook moet plek maak vir ‘n lekker warm baadjie.
Met die eerste reën vergeet die meeste mense dan ook hoe om te bestuur; die paaie is nat en mense wil so gou as moontlik uit die verkeer kom – behalwe nou by die skool. Dis juis hier waar ouers hul kinders nou tydsaam voor die skool se hek aflaai, met rye motors wat agter hulle in ‘n ry staan en wag.
En dan, wanneer die paaie soos die Bergrivier begin lyk, sien jy om elke hoek en draai ‘n span munisipale werkers besig om verstopte dreine oop te maak voordat die hele dorp verspoel.
Ek probeer altyd om die positiewe raak te sien, maar ek vind dit vreeslik moeilik om iets positiefs oor die winter te sê. Daar is vir my absoluut niks lekker aan koudkry nie. Boonop is dit soggens nog stikdonker teen die tyd dat ek die kinders, wat soos klein marsmannetjies lyk met al die lae ekstra klere aan, by die skool aflaai. Teen vanmiddag moet ek maar hoop en bid daai hordes klere vind weer hul weg huis toe as dit deur die dag uitgetrek is.
Die eerste bui reën bring natuurlik die eerste stel loopneuse en gesnuif saam. Dis die teken om te begin met die vitamien-aanvullings in ‘n poging om te keer dat die kinders siek word voordat die eksamen begin.
Winter is ook die tyd wanneer jou huis tydelik in ‘n binnenshuise wassery verander. Klere word oor elke stoel of deurknop moontlik gedrapeer. Soggens word die haardroeër ingespan om van die laaste klammigheid ontslae te raak – veral by sokkies en die sakke van jeans en oorpakke.
Tydens die winter vermy ek om sosiaal te verkeer. Ek wil veel eerder onder my kombers – ook met hordes klere aan – en ons kat half bo-op my in die bed lê as om klappertand langs ‘n vuur te staan en koudkry.
Ongelukkig moet my kinders dan met mekaar oor die weg probeer kom en gaan dit net vir die eerste dag goed. Daarna is dit oorlog.
Snags lê ek wakker as dit reën. Ek dink aan die voëltjies wat gewoonlik in die groot boom by die kantoor baljaar en wonder of dié boom genoeg skuiling bied.
Ek bekommer my dan sommer ook oor die diere wat nie huise het nie en wat tien teen een koud, nat en honger slaap. Ek wonder waar slaap die oom met die lang, verwaarloosde baard wat ek vandag by die robot met die bordjie sien staan het.
My eie kat het my tot dusver geïgnoreer, maar volg my nou soos ‘n skaduwee, net om op my skoot te lê.
Die winter tem selfs die kwaaiste honde – waar hulle gewoonlik elke beweging by die hek sou dophou, lê en snork hulle nou skaamteloos op hul sagte komberse.
Dis tyd vir ‘n verandering in die gewone spyskaart ook. Die wraps en slaai word nou vervang met warm disse soos sop en bredies – tot groot ontsteltenis van die kinders.
Maar … winter is altyd die tyd waarna die boere uitsien – broodnodige reën. Ek verstaan dit, maar moet die reën met koue en wind wat tot in jou murg sny, gepaard gaan – daardie einste wind wat jou krom laat loop terwyl jy aan Moeder Aarde probeer vasklou.
Daar is wel mense wat gaande is oor die winter – dis nou dié wat heeldag voor die kaggelvuur met ‘n leesboek en warmsjokolade-drankie kan sit.
Dan sou ek ook gaande gewees het oor die winter, maar terwyl ek enigsins my kop by die deur moet uitsteek, of moet probeer om kinders gesond te hou, of ‘n oorlog met wasgoed moet voer, sal ek elke dag uitsien na die dag wanneer die winter verby is.