Die verkiesing van skoolbeheerliggame in die Weskus-streek is afgehandel, maar die opkoms van ouers om te stem was teleurstellend.
Skole oor die land heen het in Maart ingevolge wetgewing hul nuwe skoolbeheerliggaam vir die volgende driejaartermyn verkies.
Volgens Avril Daniels, bestuurder van die Wes-Kaapse departement van onderwys se Vredenburgkring, is die verkiesings van skole in die Weskus-streek ook afgehandel.
Wanneer ’n kworum nie by ’n bepaalde skool se eerste beheerliggaamverkiesing teenwoordig is nie (10% van die aantal leerders verteenwoordig deur ouers), kan die beheerliggaam nie aangewys word nie en moet ’n tweede verkiesing binne 14 dae (steeds binne die wetlike spertyd) gehou word.
Volgens Daniels bepaal die wet dan dat die mense teenwoordig die beheerliggaam mag kies as ’n kworum ’n tweede keer nie teenwoordig is nie. “Die ouers van ’n skool word nie goed verteenwoordig as byvoorbeeld net vyf mense sewe lede van ’n beheerliggaam moet kies nie,” het hy verduidelik.
Daniels sê net twee uit die 26 staatskole van die Vredenburgkring (Saldanhabaai- munisipale gebied en Velddrif) het ’n kworum by hul eerste verkiesing gehad.
Dit is egter nie duidelik hoeveel skole met die tweede ronde ’n kworum gehad het toe hul beheerliggame vir die volgende drie jaar aangewys is nie.
Die Vredenburgkringkantoor hanteer gereeld klagtes van ouers oor besluite wat by plaaslike skole geneem word. Daniels sê ouers ontneem hulself seggenskap oor die bestuurswyse van die skool as hulle nie betrokke raak by die verkiesing van ’n beheerraad nie.
Luidens ’n persverklaring wat die Federasie van Skoolbeheerliggame (Fedsas) Maandag uitgereik het, is die Maartverkiesing die laaste paar maande deur twee afsonderlike veldtogte bemark, naamlik I Love My School en School Elections.
Hierdie twee veldtogte het albei dieselfde mikpunt gedeel, maar het wel van verskillende strategieë gebruik gemaak om hul doelwit te bereik.
Hul gesamentlike doel was om mense aan te moedig om hul stem te laat geld by hul onderskeie skole.
Fedsas verduidelik in sy verklaring dat die verkiesing van skoolbeheerliggame van groot belang is vir die jeug.
Hoe meer ouers aan die verkiesing deelneem, hoe hoër is die gehalte van skoolbestuur.
Verder sê Fedsas ouers kry die geleentheid om insette in hul kind se opvoeding te lewer deur betrokke te wees by hul kind se skool en spesifiek om een keer elke drie jaar aan die SBL-verkiesing deel te neem.
Dit is ’n wonderlike geleentheid wat nie elke jaar plaasvind nie.
Fedsas is die nasionale verteenwoordigende organisasie van beheerliggame wat sy lede inlig, organiseer, mobiliseer en toerus om die hoogste internasionaal erkende onderwysstandaarde in openbare skole te handhaaf en uit te bou.