Matrikulante van 2016 en 2017 wat nie aan die toelatingsvereistes vir hoër onderwys voldoen nie, maar wat gr. 12 geslaag het, kan steeds aansoek doen vir toelating tot die jaar lange SciMathUS-kursus (wetenskap en wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch).
Aangebied deur die Universiteit Stellenbosch (US) Sentrum vir Pedagogie (SUNCEP) bied die kursus jaarliks 100 studente uit benadeelde omstandighede regoor die land, ’n tweede kans om vir hoër onderwys te kwalifiseer.
Sedert dit in 2001 begin het, het meer as 1 100 studente die kursus suksesvol voltooi.
Om aansoek te doen, moet matrikulante gr. 12 met ’n gemiddelde van 60% (lewensoriëntering uitgesluit), ’n minimum van 50% in Afrikaans of Engels (huistaal of eerste addisionele taal) geslaag het en minstens 45% in wiskunde en fisiese wetenskappe behaal het.
Studente het die geleentheid om hul NSS-punte in wiskunde en fisiese wetenskappe te verbeter. Hulle kan ook kies om rekeningkunde en inleiding tot ekonomie te doen. Hierdie twee vakke word deur die universiteit aangebied. . Die sluitingsdatum vir aansoeke is 26 Januarie 2018 en studente word aangeraai om aanlyn aansoek te doen by www.sun.ac.za/suncep of telefonies by 021 808 3483.