’n Man van Vredenburg en een van Hopefield staan saam met ’n afgetrede polisiewoordvoerder tereg op aanklagte van bedrog wat verband hou met die uitreik van vervalste padwaardigheidsertifikate vir vragmotors.
Elton Anthony (40) is Donderdag 25 Julie by sy huis in Vredenburg in hegtenis geneem en het Maandag 29 Julie die eerste keer saam met die oud-polisiewoordvoerder Alroy Windvogel (63) in die Heidelberg-landdroshof verskyn. Hulle is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat.
Volgens sers. Chris Spies, ’n woordvoerder vir die Suid-Kaapse polisie, behels aanklagte teen hulle bedrog, sameswering om bedrog te pleeg, korrupsie en regsverydeling.
Emile Roman (29), ’n inwoner van Hopefield, het homself ’n week later aan die polisie oorgegee. Hy het Donderdag 1 Augustus vlugtig in die Swellendam-landdroshof verskyn en is ook borgtog van R2 000 toegestaan.
Hoewel verskeie mediaberigte na Roman as ’n “wetstoepassingsbeampte by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM)” verwys, het Tereza Burger, ’n munisipale woordvoerder, gesê hy het nie by dié munisipaliteit ten tyde van die inhegtenisnemings gewerk nie. Hy het wel vir een jaar op ’n kontrakbasis in die wetstoepassingsreaksie-eenheid gewerk, wat opgetree het wanneer munisipale infrastruktuur gevandaliseer is. Sy kontrak is nie verleng nie.
Burger het ook gesê Anthony het nog nooit by SBM gewerk nie. “Die aangeleentheid het nie betrekking tot die werksaamhede van die SBM nie.”
Die beskuldigdes mag nie telefonies of persoonlik met die getuies van die Wes-Kaapse departemente van mobiliteit en provinsiale verkeer in verbinding tree nie.
Spies het voorts gesê Anthony en Windvogel is in ’n teenmisdaadoptrede deur die polisie se eenheid teen handelsmisdaad, die Wes-Kaapse departemente van mobiliteit en provinsiale verkeersdienste aangekeer ná ’n uitgebreide ondersoek na vervalste padwaardigheidsertifikate vir vragmotors wat op verskeie plekke uitgereik is.
Volgens Spies sal die beskuldigdes Maandag 2 September vir die eerste keer saam in die Heidelberg-landdroshof verskyn. Hy het bevestig dat nog inhegtenisnemings in die Wes-Kaap en in nog minstens twee ander provinsies verwag word.
Tot dan moet Windvogel, Anthony en Roman twee keer per week by die polisiekantore in Heidelberg, Vredenburg en Hopefield aanmeld.
. Heidelberg is tussen Swellendam en Riversdal in die Wes-Kaap geleë.