Geld spaar is altyd moeilik, maar daar is maniere om jouself te treat sonder om te voel asof spaar ’n straf is.
Almal het minstens een puntekaart wat óf geld in jou sak óf dalk ’n gratis koffie vir jou kan beteken.
Om al hierdie dinge te laat ophoop, beteken jy kan een volle dag van bederf hê sonder om jou begroting omver te gooi.
Gebruik jou punte om ’n nuwe uitrusting met afslag te koop of kyk uit vir ’n uitverkoping. Gaan drink ’n gratis koffie en gaan vir ’n mooimaaksessie met ’n geskenkbewys of by ’n akademie waar die stiliste praktiese ervaring nodig het en jy seker die helfte van die normale prys sal betaal.
Bederfies hoef ook nie altyd uitstappies of besoeke aan die winkels te beteken nie.
Ons Weskussers is baie bevoorreg om in een van die mooiste dele van die wêreld te woon.
Ons hoef glad nie geld uit te gee om langs die mooiste strande te gaan stap nie. Daar is baie stap- en fietsroetes in die streek wat gratis is.
Vermaak hoef ook nie R60-kaartjies by die fliekteater te wees nie.
Hou ’n fliekdag by die huis. Maak jou eie springmielies op die stoof – dis goedkoper en lekkerder as dié by Ster-Kinekor.
In deesdae se gejaagde lewe is stilte ’n groot bederf vir baie.
Stof jou biblioteekkaartjie af, want biblioteke is nie net vir skooltake nie. Gaan neem ’n boek of ’n DVD by jou plaaslike biblioteek uit. Dit kos jou niks. Sit jou foon af, maak ’n koppie tee en maak ’n luilekker leessessie daarvan.
Vir diegene wat hul weeklikse of maandelikse mooimaaksessies by salonne geniet: Ruil dit vandeesmaand vir ’n sessie tuis.
Gesigmaskers en ’n pedikuur kan met goedjies uit die kombuiskaste gedoen word. Hawermout, heuning en eierwitte kan in van die beste velsorgprodukte omtower word.
Spaar is nie veronderstel om ’n straf te wees nie, so jy hoef nie jou gunsteling-bederfies prys te gee nie. Werk net slimmer om daardie treat sakpas te maak.