Albert Finana gaan lewenslank sit vir moord en ander aanklagtes.
Albert Finana gaan lewenslank sit vir moord en ander aanklagtes.

‘n Man van Clanwilliam gaan lewenslank in die tronk sit nadat hy vyftien jaar gelede sy jong vrou voor haar verskrikte minderjarige kinders doodgeskiet en hul ouma in die kop gewond het.

Landdros John Ehlers het Albert Finana op Woensdag 16 Julie in die Clanwilliam-streekhof tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis op aanklagte van moord. Hy is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir die aanklag van poging tot moord en drie jaar vir die aanklag van huisbraak.

Finana is in Maart vanjaar skuldig bevind op al die aanklagte.

Finana was in 2010 ‘n werker by ‘n aartappelaanleg op Lambertsbaai, toe ‘n middernagtelike orgie van geweld tot die dood van sy vrou, Nadia Finana (29), gelei het.

Die vermoorde Nadia Finana.
Nadia Finana (29)


Weslander het vroeër oor sy skuldigbevinding berig (“Man ná 15 jaar skuldig aan moord”, 27 Maart 2025).

‘n Gewapende Finana het op Vrydag 30 April 2010 om middernag by Nadia se ouers, Lodewyk en Anna Oktober, se huis in Quickview-singel opgedaag. Sy was hul enigste kind.

Finana was woedend omdat Nadia die vorige week besluit het om haar kinders, Nadeeka (toe 5) en Loweano (toe 14), weg te vat vanuit die huis wat sy met Finana gedeel het. Sy en die kinders het hierna by haar ouers gaan bly. En dit was by dié huis waar die treurspel afgespeel het.

Nadia saam met haar dogter op haar tweede verjaarsdag.
Nadia op haar dogter se tweede verjaarsdag.


Nadia se pa, Lodewyk, het destyds bedroef en verdwaas vertel dat ‘n sestienjarige seun in die huis het gehoor hoe Finana sy pistool buite die huis oorhaal.

Die seun het die mense in die huis gewaarsku, maar die volgende oomblik het Finana ‘n skoot op die hoofslaapkamervenster afgevuur. Die venster het aan skerwe gespat en Finana het dit verder oopgetrap.

Hierna het hy eers sy skoonma in die slaapkamer geskiet voordat hy na ‘n slaapkamer is waar sy vrou en hul twee kinders was. Anna se gesig is vir altyd geskend ná die aanval.

Die klein Loweano het nog probeer keer dat Nadia die deur oopmaak, maar toe sy oopmaak, het Albert voor haar gestaan en haar in die bors geskiet. Sy is op die toneel dood.

Nadia Finana
Nadia Finana op ‘n spesiale dag.


Volgens Lodewyk het Albert hierna die vuurwapen op die kombuistafel neergesit en by die huis uitgehardloop. Hy het hom later aan die polisie oorgegee.

Lodewyk het dié Vrydagaand in Laaiplek, Velddrif, oorgebly waar hy van die skietery by sy huis in Lambertsbaai ingelig is.

Die familie voor die Clanwilliam-landdroshofgebou.


Die familie was verheug dat geregtigheid uiteindelik geseëvier het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article