Gesteelde goedere is Vrydag (16 Augustus) teruggevind toe ’n vermeende verdagte ná ’n hoëspoed-jaagtog in Langebaan aangekeer is

Charnel Hattingh, groephoof van kommunikasie en bemarking by Fidelity ADT, het verduidelik dat een van hul gewapendereaksiebeamptes naby Antonio Sienistraat gepatrolleer het toe hy ’n radio-uitsending van die plaaslike buurtwag hoor. Daarin is ’n verdagte voertuig beskryf wat pas van ’n misdaadtoneel af gevlug het.

“Die beampte het gesien hoe die voertuig verbyjaag en dit agtervolg,” het Hattingh gesê.

Tydens hierdie hoëspoed-jaagtog het die verdagte voertuig stilgehou met een insittende wat uitgeklim het voordat dit weer weggejaag het. Die beampte het voortgegaan om hom agterna te sit. Oomblikke later het die verdagte buite die Langebaan Country Estate beheer oor die voertuig verloor en reguit oor die verkeerseiland gery en albei voorwiele beskadig.

Die beampte het die bestuurder vasgekeer totdat die polisie opgedaag het om hom in hegtenis te neem, het Hattingh gesê.

Dit het later geblyk dat die voertuig vroeër met ’n huisbraakvoorval verbind is toe vermoedelik gesteelde goedere in die voertuig aangetref is.

Die polisie het die verdagte in hegtenis geneem en hy is aangekla in verband met die huisbraak asook die besit van gesteelde eiendom.

Hattingh het gesê inwoners van Langebaan moet dadelik alarm maak as hulle bewus word van ’n misdaad of enige verdagte aktiwiteit om dit vir misdadigers moeiliker te maak om weg te kom.

You need to be Logged In to leave a comment.