Twee “kliënte” van ’n man wat hulle verlede week van Cedrastraat in Louwville, Vredenburg, na die landdroshof moes neem, het die Ford Figo waarin hulle gery het by hul eindbestemming gekaap.

Die 32-jarige bestuurder het Donderdag 2 Mei omstreeks 11:00 by die hof stilgehou, waarop die mans hom elkeen R100 gegee het, het kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, gesê.

Nadat hulle hom betaal het, het hulle hom egter in die gesig geslaan en ingelig dat hulle die motor gaan vat. Hy is uit die motor gedwing en die kapers het met die motor weggejaag.

Lede van die Weskus K9-eenheid het die Ford Figo Sondagmiddag (5 Mei) gesien en die voertuig agternagesit. Die voertuig is oomblikke later voorgekeer en die vyf insittendes is vasgetrek.

Die mans het Dinsdag (7 Mei) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025