Speurders van die kinderbeskermingseenheid het ’n 41-jarige man van Vanrhynsdorp, wat van seksuele aanranding van ’n kind verdink word, in Bethlehem in die Vrystaat gaan haal. Hy is op 6 September daar op die gholfbaan in hegtenis geneem.
Die man word van seksuele aanranding op ’n vyfjarige aangekla.
Die beweerde wandade wat in Vanrhynsdorp gepleeg is, het glo gebeur terwyl die kind se ma nie by die huis was nie.
Die beskuldigde het gister (Woensdag 18 September) weer in die Vanrhynsdorp-landdroshof verskyn.
Sy aansoek om borgtog is nie toegestaan nie.
Hy word aangehou tot sy volgende verskyning op Woensdag 25 September.