Die vermeende moordenaar van ‘n 50-jarige vrou in die veld langs die Vredenburg-Hopefieldpad (R45), het weer in verband met dié moord in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Christo le Roux (45) van Vredenburg het die afgelope Vrydag (18 Julie) weer vlugtig op aanklag van moord verskyn. Hy word daarvan beskuldig dat hy Elizma Manuel in Februarie vanjaar meer as twintig keer met ‘n mes gesteek het – oënskynlik sonder rede. Manuel se selfoon, sigarette en ander persoonlike besittings was om haar lyk gestrooi. Só ook ‘n wit kitskoshouer met slaptjips.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het inwoners van die Yskor-buurt wat na skrootmetaal in die veld gaan soek het, op Maandag 10 Februarie op Manuel se bebloede lyk afgekom.
Manuel, van Laaiplek, Velddrif, was die naweek van 7-9 Februarie op Vredenburg op soek na ‘n voormalige kêrel wat haar geld geskuld het. Le Roux en ‘n vriendin het na bewering aangebied om saam met haar te stap.
Die polisie was omstreeks 15:30 op die toneel waar Manuel se lyk in die veld aangetref is. Haar identiteit kon eers dae later bevestig word toe familielede haar gaan uitken het.
Volgens alle aanduidings het Manuel en Le Roux mekaar glad nie geken nie.
Die polisie het inligting opgevolg en Le Roux by sy woonplek in hegtenis geneem nadat die moordwapen in dié huis gevind is.
Le Roux kom weer op 2 September voor. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.


