Saterdag 24 September op Erfenisdag word die Weskus Erfenis Makietie vir die vyfde keer aangebied.
Dit het ontwikkel in ’n gewilde Weskus- kultuurfunksie, en word aangebied deur die SA Visserye-museum in samewerking met Laaiplek Hotel, Bergrivier Toerisme en verskeie ander rolspelers.
Gehou op die terrein van die Laaiplek Hotel, beeld die makietie die kultuur-erfenis uit van alle Weskus-gemeenskappe.
Vanjaar se tema is “Gister se Toekoms” om te wys gister se gebeure bepaal ook die gang van die toekoms, en mag daarom nie vergeet word nie.
Die makietie sal weereens ’n kleurvolle bymekaarkoms van Weskus-mense wees. Musiekmakers, rieldansers, tradisionele en moderne danse, drama, storievertellers, skrywers, kuns, handwerk, kosstalletjies, bootritte op die rivier en kindervermaak is aan die orde van die dag.
Die verrigtinge spring weg met ’n lekker pretstap om 08:00, met die program op die verhoog wat ’n aanvang neem om 09:00.
Die lekkerlooproete gaan vanjaar weer oop wees.
Feesgangers kan vanaf die feesterrein deur die sleephelling, waar houtskuite reggemaak word, na die hawe loop, waar hulle ’n begeleide toer op ’n vistreiler kan meemaak (mits die skuite nie almal see toe is nie).
Die manne kan meeding by die skyfskiet-kompetisie en ’n halwe skaap wen. Vanmelewe se plaasmasjinerie, veteraanmotors en motorfietse, asook ’n kunsuitstalling kan besigtig word.
Verskeie plaaslike sangers en groepe tree op. Die talentvolle Whaden Johannes, onlangse wenner van die ATKV se Crescendo-kompetisie, is die gaskunstenaar.
Die SA Visserye-museum is ook geleë op hierdie terrein. Toegangsgeld by die hek sluit ’n besoek aan die museum in waar die visbedryf en die Weskus se geskiedenis uitgebeeld word.
Weskus Erfenis Makietie word gehou op die wal van die Bergrivier, aangrensend aan Laaiplek-hawe. Billike toegangsgeld word gehef.
Besoek gerus die webblad www.safisheriesmuseum.co.za of bel Felicity by 022 783 2531/082 849 9251 of stuur ’n e-pos na seaquiz@mweb.co.za.