Makietie kom

Die Koelkamers-teater en Wasgoed­lyn bied die Makietie met Woorde en Musiek-fees van Vrydag 15 tot Sondag 17 November met verskeie vertonings aan.


Die Koelkamers-teater en Wasgoed­lyn bied die Makietie met Woorde en Musiek-fees van Vrydag 15 tot Sondag 17 November met verskeie vertonings aan.

Wasgoedlyn se Riku Lätti en Die Koelkamers se Jan Malan en Greg Meyer het koppe bymekaar gesit om ’n musiek- en woordefees te skep wat ’n platform bied vir liedjieskrywers en digters van alternatiewe Afrikaans.

Makietie is ’n daadwerklike antwoord vir dié wat skepties is dat Afrikaans as taal gaan voortbestaan. Makietie sal verras met sy kreatiwiteit, spontaneïteit en diversiteit.

Lewende legendes van die alternatiewemusiek-beweging, die vader van Afrikaanse rock, die liedjieboer Anton Goosen, sowel as die Voëlvry-rebel en skrywer, Koos Kombuis, gaan gehore met vlymskerp lirieke vermaak.

Uit die alternatiewe Afrikaanse geledere is Riku en Jackie Lätti (TV-aanbieders), Frazer en Deniel Barry van Kleinmond, wat die voete gaan laat dans, en die digter en sanger van Gansbaai, Jolyn Phillips, asook die rymkletser en digter Churchil Naudé van Mitchells Plain, en van Springbok, die outjie van Namakwaland, Brain Cloete. Gaste kan ook uitsien na Bacchus Nel, wonderlike storieverteller en folksanger van Pretoria en die enigmatiese Kaalkop Waarheid en nalopers van die Gereformeerde Blues Band, Die Kaappunters.

Om die fees af te sluit gaan die Wasgoedlyn ’n Johannes Kerkorrel Terugblik-konsert aanbied.

’n Naweek van digters, liedjieskrywers, kinderteater, rymkletsers en musiek om die siel te verkwik. Om te bespreek besoek www.diekoelkamers.com of kontak Jan Malan by 082 554 0775 of stuur e-pos na janmalan@janmalan.com.. Weslander-lesers staan die kans om kaartjies te wen vir die volgende vertonings:

Drie lesers kan elk twee kaartjies wen vir Frazer en Deniel Barry se vertoning. Drie lesers kan elk twee kaartjies wen vir Churchil Naudé, rymkletser en digter, saam met Jackie Lätti; en drie lesers kan elk twee kaartjies vir Brain Cloete wen.

Vir ’n kans om te wen, beantwoord hierdie volgende vraag: Wat is die naam van die vertoning by Die Koelkamers en Wasgoedlyn se Riku Lätti? Meld ook watter van die drie vertonings jy graag sal wil sien. Stuur jou antwoord op WhatsApp na 082 576 0453.

You need to be Logged In to leave a comment.