‘Magsbehepte verkeersbeamptes op heksejag’ in Dwarskersbos

“Ons het baie uit hierdie ervaring geleer, dat die inperking se reëls te streng is, dat kleinlike medeburgers soos klikkiebekke die polisie bel en dat daar magsbehepte verkeersbeamptes op ’n heksejag in Dwarskersbos is.”


‘n Man van Dwarskersbos wat sy 10 maande oue baba by hom op die strand gehad het, is glo voor sy histeriese gesin rondgepluk, geboei en in hegtenis geneem.

Die verkeersbeampte wat Ludwig Gericke (34) Saterdag 9 Mei in hegtenis geneem het, het die gesinsman – wat nog nooit ’n strafregtelike aanklag teen hom gehad het nie – glo herhaaldelik gedreig dat hy die hele naweek in die polisieselle gaan deurbring.

Die nasionale inperking se huidige vlak 4-regulasies weens die Covid-19-pandemie, verbied toegang tot strande, maar in Dwarskersbos het die owerhede glo die vergunning gemaak dat inwoners hiér op die strand mag stap, binne die wettige daaglikse oefentydperk van 06:00 tot 09:00.

Hierdie besluit is glo gemaak omdat die hoofpad gevaarlik vir voetgangers en die dorpie se strate baie nou is. Oefening op die strand beteken dus dat ’n veilige fisieke afstand tussen die stappers gehou kan word.

Volgens Ludwig, ’n argitek van beroep, is ’n boodskap vanaf Laaiplek-polisie vroeër die week met Dwarskersbos se inwoners gedeel dat hulle toegelaat sal word om soggens op die strand te stap, mits daar nie visgevang of geswem word nie, dat mense hulle gesigmaskers dra en die voorgeskrewe afstand van mekaar gehou word.

“Die boodskap is ook wyd op sosiale media gedeel,” het hy aan Weslander vertel. 

Dit blyk Ludwig is in hegtenis geneem, juis omdat hy op hierdie mooi kusdorpie se strand was, slegs ’n paar minute ná die afsnytydperk van 09:00.

Vir hom en sy vrou het dit voorgekom die verkeersbeamptes het gesit en wag vir 09:00 om aan te breek en sommer dadelik op al die stappers toegeslaan het wat nog buite hulle huise was.

Ludwig beskryf die gebeure wat hy op daardie oggend aanskou het as ’n “magsbehepte heksejag” en hy sê dis sy ervaring dat die polisiebeamptes wat betrokke was, hulself “verlekker” het in die uitskryf van boetes aan inwoners en sy traumatiese inhegtenisneming.

 Oggendstappie ontaard in ’n nagmerrie 

Ludwig, sy vrou Mari (32), hul dogter (3), babaseun (10 maande) en hond het die betrokke Saterdagoggend hul huis in die Slakkepas-sekerheidskompleks in Dwarskersbos om 08:00 verlaat, om ’n ent te gaan stap. Hulle het die hoofpad oorgesteek en via Orgideestraat tot by die strand gestap. Van hier het hulle strandlangs beweeg en volgens Ludwig was daar heelwat mense op daardie tydstip op die strand wat gedraf of met hulle honde gestap het.

Mari het op die ingewing van die oomblik besluit om vir die gesin ’n paar noodsaaklikhede by die See Kaia-winkel in Roosstraat te koop voor hulle huiswaarts keer. Sy en hulle dogter is na die winkel terwyl Ludwig saam met hulle babaseun in ’n drasak op sy bors, op die strand gewag het. Ludwig sê hulle het nie ’n horlosie by hulle gehad nie, en die foon wat hulle op die stappie saamgebring het, se battery het intussen heeltemal pap geraak.

Ludwig sê sy vrou en dogter was skaars weg, toe ’n verkeersbeampte oor die strand, uit Elandsbaai se rigting na hom aangehardloop kom. “Die man het gevra wat ek op die strand maak en gesê ek oortree vlak 4-regulasies. Ek het geantwoord ek wag vir my vrou en kind om van die winkel af te kom en dat ons dan dadelik huis toe sal gaan.”

Ludwig vertel hy het in die rigting van Roosstraat begin stap om van die strand af te kom, maar dat die verkeersbeampte, wat glo baie groter in statuur as Ludwig is, hom aan die arm gegryp en hom in die teenoorgestelde rigting probeer sleep.

“Ek dink hy wou keer dat ek die hoogwatermerk oorsteek,” vertel hy.

“My seuntjie het begin huil en ek het myself teëgesit en aan die beampte gesê hy moet ons uitlos. Intussen het my vrou en dogter daar aangekom.”

Ludwig sê Mari het die inkopiesak op die grond laat val en na Ludwig op die strand gehardloop terwyl hulle driejarige dogtertjie versteen op die plek gestaan en huil het waar die seesand by die voetpad aansluit.

“My vrou het gehuil en desperaat by die verkeersbeampte gepleit om ons te los, want ons is op pad huis toe, terwyl ons seuntjie, nog op my bors, ook histeries gehuil het.

“Hy (die verkeersbeampte) het aanhoudend aan my gesê ek moenie die baba teen hom gebruik nie. Ek het nie verstaan wat hy probeer sê nie. Hy het steeds my arm in ’n greep gehad en my van my vrou probeer wegsleep. Mari het vinnig ons seun uit die drasak op my bors gegryp, waarna die verkeersman my voor my gesin geboei het.”

’n Kollega van die verkeersbeampte het intussen op die toneel aangekom om te help.

Die beamptes het Ludwig na ’n voertuig geneem waar hulle hom op die voorste sitplek laat sit het.

Mari sê sy het in daardie oomblik nie geweet wat om te doen nie. Sy het hulle dogter by die eienaar van die winkel gelaat en met haar baba na die voertuig gehardloop om verder by die beamptes te pleit.

“Hulle het ook aan my gesê ek moet ophou om my kind te ‘gebruik’ anders gaan hulle my ook in hegtenis neem,” het Mari vertel.

Die beamptes het glo nie verder met haar gepraat nie en met Ludwig weggery.

Ludwig vertel terwyl hy in die voertuig gesit het, het die beamptes ook boetes van R2 500 aan ander inwoners uitgeskryf.

“Die verkeersman het later aan my gesê ek sou ook net ’n boete gekry het, maar ek het hom verhinder om sy werk te doen daarom is ek in hegtenis geneem,” sê Ludwig.

 ‘Hulle wou ’n voorbeeld van my maak’

Op pad na die polisiekantoor het die beamptes glo eers ’n draai gery om nog ’n paar inwoners “vas te vat”.

“Hulle het weer by die strand, nou verlate, stilgehou en opgewonde uitgespring en in teenoorgestelde rigtings gehardloop. Toe hulle terugkom het hulle heel teleurgesteld voorgekom dat hulle niemand gevang het nie.

 “Ons het na die polisiekantoor gery en die beamptes het met mekaar gepraat oor hoe moeg hulle is vir Dwarskersbos se mense ‘wat nie luister nie’, wat dink hulle is ‘bo die gereg’, dat hulle wat die verkeersdiens nie deur die inwoners ‘as ’n grap uitgemaak sal word nie’ en dat hulle ‘’n voorbeeld van my sal maak’.”

Ludwig was vreesbevange dat hy heel naweek in die polisieselle sal deurbring aangesien die beamptes glo herhaaldelik aan hom gesê het dat hulle hom tot Maandag sal toesluit.

Eers by die polisiekantoor in Laaiplek het Ludwig gehoor hy gaan slegs ’n boete ontvang en ’n kennisgewing om in die hof te verskyn.

Hiér het die beampte wat Ludwig aan die arm gegryp het die papierwerk gedoen en gesê hy gaan sorg sy saak is “waterdig” en aan Ludwig gesê hy “durf nie vals inligting” in sy eie verklaring verskaf nie. Die beampte het ook aangedring om sy vingerafdrukke te neem.

Mari was genoodsaak om ’n oppasser vir die kinders te vind voor sy Ludwig by die polisiekantoor kon gaan afhaal.

“Ons is getraumatiseer en verneder,” vertel Ludwig.

“Ek en my gesin het die volgende dag, op Moederdag, almal vir berading gegaan.”

Die paartjie vertel hulle dogtertjie het die nag ná die voorval herhaaldelik wakker geword en in haar slaap gehuil en bevrees uitgeroep: “Die polisie vat my pappa weg!”

Volgens Ludwig is die tyd van die voorval wat die beampte op die amptelike papierwerk neergeskryf het 09:15.

“Ons het nie ’n horlosie by ons gehad nie, maar my vraag is, hoe laat is ek dan op die strand in hegtenis geneem?”

 Paartjie oorweeg regstappe

Die Gericke-paartjie is besig om met hul prokureur te beraadslaag en het aan Weslander gesê hulle oorweeg regstappe.

Ludwig Gericke se vertelling van wat gebeur het, stem ooreen met sy amptelike polisieverklaring wat Weslander onder oë gehad het.

“Ons het baie uit hierdie ervaring geleer, dat die inperking se reëls te streng is, dat kleinlike medeburgers soos klikkiebekke die polisie bel en dat daar magsbehepte verkeersbeamptes op ’n heksejag in Dwarskersbos is, wat ’n duidelike boodskap aan die inwoners wil stuur,” sluit Ludwig af.

 Die owerhede antwoord

’n Senior polisiebeampte van Laaiplek-polisie, wat anoniem wil bly, het skriftelik onder eed verklaar dat hy in die polisiekantoor was terwyl Ludwig Gericke daar aangehou was.

In die verklaring, wat Weslander ook bestudeer het, het hy gesê, van dit wat hy kon sien, was Ludwig volgens hom nie ongrondwetlik deur die verkeersbeamptes hanteer was nie. “Ek het verder niks om daaroor by te dra nie,” lui die verklaring verder.

Kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê aangesien die beampte nie ’n lid van die polisie is nie, die munisipale verkeersdiens terugvoering oor die voorval moet gee.  

Weslander het ’n navraag aan die verkeersdepartement van die Bergrivier-munisipaliteit gestuur.

Hanlie Linde, die munisipale bestuurder, het in haar skrywe aan Weslander gesê sy, asook die direkteur van gemeenskapsdienste, Dean Josephus, en die hoof van verkeer, Cavin Cornelissen, het die saak ondersoek nadat hulle daarvan op Facebook gelees het, maar dat hulle nog geen amptelike klag of korrespondensie van die Gericke-paartjie ontvang het nie.

Sy het ook gesê die betrokke verkeersbeamptes was Saterdag 9 Mei aan diens in hulle uniforms om vas te stel of inwoners die regulasies oortree deur die strandgebied ná 09:00, die afsnytyd van die wettige oefentyd, te gebruik.

Volgens die betrokke verkeersbeampte se verklaring, wat ook deur die munisipaliteit bestudeer is, het hy Ludwig “vriendelik versoek” om saam te werk en hom in hegtenis geneem omdat hy “geweier het”.

Linde skryf: “Mnr. Gericke is in hegtenis geneem vir die verhindering en belemmering van die uitvoering van die verkeersbeampte se pligte. As mnr. Gericke sy samewerking gegee het, het hy slegs ’n boete ontvang.

“Sedert 27 Maart is honderde mense in die Bergrivier-omgewing in hegtenis geneem vir soortgelyke misdrywe rakende die beweging van mense. Hierdie nasionale regulasies in ingestel om al die lede van die publiek se veiligheid te verseker en te keer dat die virus verder versprei. Bergrivier-munisipaliteit het reeds 18 positiewe (Covid-19) gevalle en ons versoek almal om asseblief nougeset by die regulasies te hou. Indien inwoners besluit om van die oefentyd in die oggende gebruik te maak, moet hulle toesien dat hulle weer teen 09:00 veilig tuis is,” het Linde gesê. 

You need to be Logged In to leave a comment.