Die 2024- Nasionale Seniorsertifikaateksamen het Maandag landwyd vir altesaam 727 121 geregistreerde voltydse leerders begin.
Die eindeksamen gaan dikwels gepaard met baie stres en voorbereiding in aanloop tot daardie laaste vraestelle wat leerders se skoolloopbaan afsluit, met talle wat hoop op goeie punte om vir naskoolse studies in aanmerking te kom.
Dit veroorsaak ook soms dat gemoedere in die huishouding hoog loop. Ouers wonder dikwels wat hulle kan doen om hul kinders in die voorbereiding vir die eksamen te ondersteun.
Dr. Cecilia Klopper van CURAparent, ’n onderwyskundige en medewerker van Afrikaans.com en ontwikkelaar van Afrikaans.com se matriekklaskamer, sê ’n rustige leeratmosfeer by die huis is nou die belangrikste en kinders moet ’n stil plek hê waar hulle ongestoord kan studeer. Sy beveel ook aan dat ouers riglyne en hulpbronne vir alle vakke aankoop, want dit sal hulle insig in die kurrikulum gee. Sy beveel die 3-in-1- Vraag-en-Antwoord-reeks aan. Heelwat gratis hulpbronne is ook op Afrikaans.com en die internet beskikbaar.
Nog riglyne:
. Laai vraestelle met memoranda van die laaste drie jaar in al hulle vakke af. Dit gee hulle ’n geweldige voorsprong;
. Hou maar ’n ogie dat hulle genoeg slaap en gesonde kos uit al vyf die voedselgroepe inkry;.
. Dit is ook nodig dat leerders genoeg moet ontspan en oefen;.
. Gee vitamienaanvullings as jy sien jou kind het min energie;
. Identifiseer angs en depressie betyds en doen iets daaromtrent. Gewone asemhalingsoefeninge help ook vir die angstige oomblikke – vyf asemteue deur die neus, wat vir vyf tellings ingehou word en dan by die mond uitgeblaas word. Herhaal ’n paar keer totdat jy kalmer voel;
. Indien iets jou kind pla, soos ’n probleem by die huis of ’n verhoudingsprobleem, ondersteun hom deur met hom daaroor te gesels. Daarna moet hy/sy dit op ’n papier skryf en dit in ’n laai “parkeer” tot ná die eksamen. Dan kan hy/sy dit weer hanteer;
. Jou kind kan nie sy/haar beste lewer as sy/haar gemoedstoestand nie reg is nie. Ernstiger angs en depressie moet natuurlik op ’n deurlopende grondslag behandel word sodat dit nie tydens die bykomende spanning van die eksamen die kind se konsentrasievermoë benadeel nie; en
. Indien leerders enigsins probleme met skoolwerk ondervind, moet ouers onmiddellik ekstra akademiese hulp reël.
Wenke vir graad 12’s
Laai vraestelle van die laaste drie jaar af, beantwoord dit en vergelyk jou antwoorde met die memorandums op dieselfde webtuistes. Dit is gratis.
Hier is nuttige webtuistes:
. https://www.afrikaans.com
. https://www.education.gov.za
. https://www.sapapers.co.za
Jy kan ook bloot ’n spesifieke vraestel en memorandum op die internet soek, byvoorbeeld gr. 12, Afrikaans huistaal, vraestel 1, November 2022. Daar behoort verskeie opsies van verskaffers te wees. Dit kan gratis afgelaai word.
Beantwoord die vraestelle en vergelyk die memorandums met jou antwoorde. Kyk wat jy verkeerd het en leer so uit jou foute.
Dit is baie belangrik dat jy sien hoe die vrae gestel word en wat die eksaminator as antwoord verwag.
Kyk ook na die puntetellings. Daar behoort twee of drie stelle vraestelle vir elke jaar te wees – Mei/Junie, wat die aanvullingseksamens is, asook die rekord- en eindeksamenvraestelle in November.
Raad vir voornemende matrieks vir die 2025-skooljaar
Beplanning is noodsaaklik.
Gr. 12-leerders moet hul akademiese voorbereiding goed beplan.
Begin sommer dadelik en druk of koop ’n jaarplan wat in dae en maande ingedeel is. Plak dit iewers op sodat jy met een oogopslag die hele maand of kwartaal se aktiwiteite kan sien.
Skryf dadelik alle belangrike datums daarop. Dit sluit in toetse, eksamens, sperdatums, toere, partytjies, kerk asook buitemuurse oefeninge, wedstryde en kampe.
Beplan dan jou studierooster om jou belangrike datums sodat jy genoeg tyd het om al jou werk te leer.
.
Lees die volledige artikel “Eksamenvoorbereiding: Doen dit behoorlik en verminder so jou stres” op Afrikaans.com