Maak só jou spens lekker vol

Verbruikers verkeer op die oomblik weens die styging in petrolpryse en die verhoging van belasting op toegevoegde waarde (BTW) onder kwaai druk. Hier is ’n lys waarmee jy gerus jou spens kan vol maak as jy wil spaar:.


Verbruikers verkeer op die oomblik weens die styging in petrolpryse en die verhoging van belasting op toegevoegde waarde (BTW) onder kwaai druk. Hier is ’n lys waarmee jy gerus jou spens kan vol maak as jy wil spaar:

1. Mieliemeel is nou goedkoper as ’n jaar gelede, sê sowel Shoprite as Pick n Pay, aangehelp deur rekordoeste van dié gewasse verlede jaar en ook vanjaar.

2. As jou huismense suiker in hul koffie of oor hul mieliepap gebruik, kan jy nou maar ’n stewige voorraad aankoop, want suiker is nou goedkoper as ’n jaar gelede, het albei groot winkelgroepe gesê. Dis deels vanweë beter plaaslike oeste, maar ook omdat suiker op die oomblik goedkoop van ander lande ingevoer word.

3. Volgens die Shoprite-groep is sowat 40 soorte vrugte en groente in Shoprite en Checkers vanjaar goedkoper as ’n jaar gelede. Die groep waarsku egter: “Vrugte- en groentepryse word deur vraag en aanbod bepaal en pryse kan oornag verander weens kort groeisiklusse of strawwe weerstoestande (soos hittegolwe, buitensporige reën, hael, windstorms, ryp en droogte).” Piesangs is op die oomblik goedkoper as ’n jaar gelede.

4. So twee jaar gelede het Netwerk24 berig jy sal as gevolg van die 2015-’16-droogte tot R35 vir ’n avokado moet opdok. Nou is daar goeie nuus vir banters en ander mense wat van dié vrug met sy hartvriendelike olie hou: Jy kan nou in sekere winkels vier avokado’s vir daardie prys kry!

5. Volgens Shoprite is botterskorsie goedkoper as ’n jaar gelede. Onthou dat heel botterskorsie tot ses maande lank in jou spens gebêre kan word; jy kan dus ’n voorraad aanskaf en mettertyd gebruik.

6. Shoprite sê mense moet onthou dat hy sekere produkte in sy bakkery subsidieer “in ’n poging om verbruikers verder by te staan”. Die prys van bruinbrood wat Shoprite self bak, word nou al ’n hele paar jaar onveranderd op R4,99 gehou.

7. Pick n Pay sê koffie is op die oomblik goedkoper in sy winkels as ’n jaar gelede. Die sterker rand (as ’n jaar gelede) help winkels om dié produk goedkoper te bekom. Die meeste koffie word oorsee geproduseer en verwerk.

8. Volgens Pick n Pay is kookolie vanjaar goedkoper, ook danksy goeie oliesaadoeste verlede jaar. ’n Mens kan onoopgemaakte sonneblom-, kanola- en gemengde groente-olie tot twee jaar lank bêre. Jy moet dit binne ’n jaar opgebruik nadat jy dit oopgemaak het. Kyk ook na die vervaldatum op die bottel wanneer jy dit koop.

9. Shoprite sê die prys van toiletpapier is op die oomblik laer as ’n jaar gelede, maar dis hoofsaaklik op tweelaag-papier van toepassing.

10. Shoprite sê baie velsorgprodukte is ook goedkoper as ’n jaar gelede.

Drie dinge waarmee jy nié gaan spaar nie

1. Beesvleis: Die prys van beesvleis is, volgens Shoprite, “steeds onder druk”. “Weens die droogtetoestande in baie gebiede het veeboere hul kuddes verklein en dit word nou geleidelik weer opgebou. Die voorraad is daarom onder druk, wat pryse hoog hou.” Pick n Pay sê egter: “Ons het die prys van lams- en beesvleis sedert verlede jaar min of meer onveranderd gehou.”

2. Eiers: Weens die 2017-voëlgriepepidemie moes baie eiers en lêhoenders van kant gemaak word. Shoprite sê dit het steeds ’n uitwerking op die prys van eiers.

3. Bevrore hoender: Hoenderstukke wat individueel bevries is, word steeds vinniger duurder as ander kossoorte. Volgens Shoprite hou dit ook met die voëlgriepepidemie in 2017 verband.

You need to be Logged In to leave a comment.