Mense vra hom altyd wie die regte mense is om mee sake te doen oor finansiële beplanning soos aftree- en boedelbeplanning, testamente en trusts.
Willem Basson, bekende medeaanbieder van Ontbytsake en woordvoerder vir die Efficient Wealth-groep van die ekonoom Dawie Roodt, se raad is eenvoudig.
Eerstens, maak seker dat die finansiële raadgewer by die Raad op Finansiële Dienste (FSB) geregistreer is. Die raad besluit of iemand geskik en gepas is om as ’n finansiële instelling te mag optree – dus maak hulle die reëls en moet raadgewers eers daaraan voldoen voordat hulle ’n lisensie kan kry om as finansiële raadgewer of finansiële dienste te werk.
Tweedens is registrasie by die Finansiële Beplanningsinstituut (FPI) van Suider-Afrika “ ’n stappie verder”. Finansiële raadgewers word as finansiële beplanners gesertifiseer.
“Doen net sake met ’n FPI-geregistreerde finansiële raadgewer.”
Kyk vir die FPI-logo op dokumentasie.
Basson meen as jy dokter toe gaan, wil jy tog hê dat hy by die mediese raad geregistreer moet wees, of ’n rekenmeester by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geöktrooieerde Rekenmeesters (Saica).
Hy waarsku dat rooi ligte dadelik moet begin flikker indien ’n finansiële raadgewer of beplanner nié by die FSB en FPI geregistreer is nie.
Dilemmas
Basson herinner daaraan dat “een ding waarvan ons almal seker kan wees is dat ons gaan sterf”.
Van die dinge wat mense oorkom as hulle nie met kundige raad oorsee belê nie, is dat hulle met hul dood tot 60% van hul oorsese belegging aan belasting kan verloor.
Onkundige beleggings kan in die geval van dood hoë koste met
betrekking tot die bevestiging van die testament tot gevolg hê, asook bykomende uitgawes om ’n oorsese eksekuteur aan te stel.
Basson raai mense ook aan om seker te maak dat hul testamente en trusts se bepalings ooreenstem sodat die boedel gou afgehandel kan word.
“Korttermynversekering is baie duur, daarom moet mense seker maak die dag wat hul gastehuis of plaas afbrand, hulle nie uitvind dat hul versekering nie uitbetaal nie.”