Vandeesweek is die derde week ná Suid-Afrika se eerste amptelike Covid-19-geval.
Tussen al die onsekerheid, of liewer as gevolg daarvan, het markte gestruikel, winkelrakke is leeggedra en vele klein ondernemings moes plan maak om hul deure oop te hou.
Indien jou beursie dalk nie deur die ekstra aankope van reinigingsmiddels en blikkieskos geraak is nie, is die onsekerheid van meeste Weskussers se inkomste beslis ’n probleem.
In meeste gevalle moes werkers hoor “no work – no pay”.
Geld-ghoeroes sê daar is wel ’n paar praktiese stappe wat ons kan neem.. Praat met jou werkgewer: Teen hierdie tyd moes werkgewers al ’n aksieplan bewerkstellig het. Werkers in die gasvryheidsbedryf kan moontlik minder lone verwag omdat daar minder werksure is. Kantoorwerkers moet weet of hulle van die huis af kan werk en sodoende steeds hul salaris verdien. Indien jy ’n huiswerker is, sal jou werkgewer dit oorweeg om steeds jou loon te betaal al kom jy nie in nie?. Stel ’n noodbegroting op om te weet hoeveel rande jy sal verdien as jy minder ure moet werk en nou dat daar ’n staat van algehele inperking is. Dit is belangrik om te weet indien jou loon of salaris op enige manier gesny sou word hoeveel jy sal nodig hê om deur die week te kom.
Werkers wat nou tuis werk, moet ook in ag neem hul elektrisiteit-, telefoon- en internetrekeninge sal vandeesmaand hoër wees – werk dit by jou begroting in.. Praat met jou bank en verhuurder. Dalk besluit jou verhuurder om vandeesmaand se huur te verminder of stel die betaling met ’n week of twee uit.
Plaaslike banke het Suid-Afrikaners aangemoedig om met hulle te praat oor huisverbande en skuld. Reëlings vir verligting kan moontlik getref word.. Moenie dink jy kan eenvoudig jou skuld en rekeninge ignoreer nie.
Voor jy besluit om jou skuld en maandelikse rekeninge uit jou noodbegroting te sny, tref eers reëlings met jou skuldeisers. Agterstallige skuld kan ’n swak krediettelling en selfs regstappe beteken.
Wees liewer proaktief met alles van jou motorpaaiement tot jou munisipale rekening.