Faren Florentino (27) van Vredenburg het besluit om haar droom te draai en haar passie gevind.


As jou lewenslange droom nie uitwerk nie, draai dit om.

Dit is wat Faren Florentino (27) geleer het nadat sy nie werk as ’n chemiese ingenieur kon kry nie. Florentino sê sy wou sedert skooldae ’n ingenieur word en het haar kwalifikasie by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in 2017 voltooi.

Hierna het dié Vredenburger egter nie ’n werksgeleentheid gekry nie. Sy bieg dit was ’n ontmoedigende tyd en sy het begin om depressief te raak.

Dinge het egter verander toe sy as deeltydse lektor by Weskus Kollege aangestel is. “Ek kon geen ingenieurswerk kry nie, maar by Weskus Kollege het ek ’n geleentheid gekry om my passie aan ander oor te dra. Die studente was grootmense en ek het besef ek het ’n passie vir onderwys. Opvoeding het net nooit voor dit soos ’n opsie gevoel nie,” verduidelik Florentino.

Toe die covid-pandemie begin, het studentegetalle afgeneem en Florentino was weer sonder werk. Intussen het sy egter besluit om ’n kwalifikasie in onderrig te kry.

So het sy ’n jaar lange nagraadse onderwyssertifikaat in senior fase en verdere onderwys en opleiding by Stadio begin.

Sy het die aanlynkursus in agt maande voltooi.

“Dit is net deur geloof en baie goeie ondersteuning van my familie en vriende dat ek die kursus kon voltooi. Daar was moeilike tye en ek moes opofferings maak, maar dit was alles die moeite werd,” meen sy nou.

Florentino het die kursus verlede November voltooi. Sy het cum laude en met nege onderskeidings geslaag.

Deesdae werk sy tydelik by die Weskus Skool waar sy hoop om ’n permanente pos te kry. Sy meen benewens die vaardighede om wetenskap en wiskunde aan te bied, het haar agtergrond in ingenieurswese haar in haar nuwe rol gehelp.

“Ingenieurswese het my geleer om groot uitdagings te takel en dit in kleiner dele op te deel en dan aan te durf. Die vaardighede help my ook om konsepte aan leerders te verduidelik,” meen Florentino.

Florentino sê sy hoop ander jong mense wat mismoedig is, leer iets uit haar verhaal en streef ook om hul struikelblokke in geleenthede te verander.

You need to be Logged In to leave a comment.