Die lyk van ’n onbekende persoon is Donderdagoggend (12 Julie) langs die Laingville-sportveld gevind.
Lede van die gemeenskap het op die lyk, wat glo toegedraai was, afgekom terwyl hulle gesoek het na die 16-jarige Berodine Boyce wat sedert Vrydag 6 Julie vermis word.
Tydens ’n gemeenskapsvergadering Woensdagaand is daar besluit dat vrywilligers 09:00 bymekaarkom en in groepe verskillende dele van die dorp sal deursoek.
Skare mense het heeldag op die sportveld saamgedrom terwyl die polisie op lede van die forensiese-eenheid gewag het wat glo uit Kaapstad moes kom.
’n Gemeenskapsleier Thyrone Williams, het die skare rondom 13:00 saamgeroep en bevestig dat ’n lyk gevind is.
“Ons gaan nie spekuleer nie. Die polisie wag vir die forensics om te kom uit die Kaap uit, sodat daar ’n regte werk gedoen word. Hulle wil nie die toneel opmors en as daai mense kom is daar niks evidence nie,” het Williams gesê.
Williams het ook gevra dat die gemeenskap hul samewerking gee om nie die polisie se ondersoek te belemmer nie.
Daar sal vanaand (12 Julie) ’n gemeenskapsvergadering gehou word om terugvoering te gee na aanleiding van die vonds.
Volgens die polisie kan daar in dié stadium nie bevestig word of die lyk dié van Boyce is nie.