Die polisie het Donderdagoggend 22 Augustus die beendere van ‘n 91-jarige man van St. Helenabaai se lyk van ‘n klipperige koppie in die dorp verwyder.
Johannes Demingo het vier jaar gelede spoorloos verdwyn waarna sy familie hom as vermis aangemeld het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisie, het sy familie hom uitgeken aan die klere wat by die beendere gekry is.
Daar is Woensdagaand op die beendere afgekom in die soektog na Romano Fredericks (18), ‘n vermiste matriekleerder van die Hoërskool Louwville in Vredenburg.
Fredericks word reeds 20 dae lank vermis nadat hy op Saterdag 3 Augustus rugby in Velddrif gaan kyk en glo by ‘n vriendin gaan kuier het.
Die polisie het al verskeie gebiede tussen Velddrif en Vredenburg te voet en met behulp van hommeltuie en die honde-eenheid deursoek vir enige teken van Fredericks, maar dit het nog niks opgelewer nie.
Die berede eenheid is ook vandeesweek ontbied, maar ook húl soektog het geen nuwe leidrade opgelewer nie.
Die polisie wou nie bespiegel of die ondersoek wat ná die ontdekking van Demingo se oorskot begin is moontlik later na ‘n moorddossier verander gaan word nie.
Die beendere is wel op ‘n plek gekry wat Demingo vermoedelik nie op sy eie sou kon bereik nie. Hy het ‘n baie klein liggaamsbou gehad.
Weens die klipperige gebied waarin Demingo se oorskot gekry is, kon dit eers die volgende oggend deur ‘n forensiese span verwyder word.
Helfrich het benadruk dat daar nou op die uitslag van DNS-toetse en die lykskouingsverslag gewag word om amptelik te kan aankondig dat dit Demingo is.