Lupus kry 13-jarige Allizon van Saldanha nie onder

Die 13-jarige Allizon-Rose van Wyk skep in Lupus-maand bewusmaking oor dié siekte waarmee sy self verlede jaar gediagnoseer is.


Hoewel sy net 13 jaar oud is en lupus by haar gediagnoseer is, laat Allizon-Rose van Wyk haar nie

onderkry nie.

Lupus is in 2024 by dié jong inwoner van Saldanha en ‘n gr. 7-leerder aan Diazville Primêr gediagnoseer.
Sistemiese lupus erythematosus (SLE) is ‘n outo-immunsiekte wat die immunstelsel aanval. Dit kan onder meer die vel, niere en gewrigte benadeel.

Volgens Allizon het sy geleer om haar diagnose te aanvaar. Sy besef ander kinders het ook die siekte en sy is nie alleen nie.

Haar tannie Jenilee van Wyk vertel van die eerste simptome was swelling in die liggaam. Ná verskeie mediese ondersoeke is vasgestel dat sy wel lupus het.
“Allizon kan nie alle kosse eet soos ander kinders nie. Sy is op baie beperkings. Sy kan nie buite tussen sekere ure in die son speel nie – juis omdat die lupus die vel beïnvloed – en sy drink vir alles ‘n pil. Ons is baie trots op haar en dat sy drome het en nog baie wil bereik,” vertel Jenilee.

Allizon se ma het ook lupus onder lede gehad en is ‘n paar jaar gelede aan die siekte oorlede. “Ons het nie eens geweet sy het lupus gehad nie. Sy was vir twee jaar en nege maande bedlêend en dokters het vir haar gesê dit is atritis. Met haar laaste afspraak voor haar sterfte het ons uitgevind dit was wel lupus. Ons as ‘n familie het saam met Allizon meer oor lupus begin leer.”

Volgens Allizon was sy baie verbaas dat haar ma aan lupus gesterf het. “Ek was baie hartseer om dit te hoor en ek mis haar glimlag en persoonlikheid. Met my simptome is daar baie dae wat ek goed vergeet, maar dan onthou ek dat dit my lupus is wat dit veroorsaak.”

In die lig van Mei as lupus-bewusmakingsmaand, moedig Allizon ander kinders met die siekte aan om nie op te gee nie.

“Lupus-bewusmakingsmaand is vir my belangrik omdat dit die tweede keer is dat ek dit beleef en ek dink mense moet weet dit bestaan wel.”

Jenilee bedank Diazville Primêr vir hul ondersteuning met Allizon en glo lupus-bewusmaking moet gedeel word sodat almal die kennis kan hê.

• Kontak die Weskus-lupus-vereniging se lede Bridgette Malan by 078 013 7545, Francina Eksteen by 078 412 6481 of Carlo Cloete by 072 922 6667 vir nog inligting en/of ondersteuning.

You need to be Logged In to leave a comment.