Lugskou maak geskiedenis

In die lug, deur die klankgrens en nou ook binne die geskiedenis­boeke. Dit is die Langebaanweg-lugskou.


In die lug, deur die klankgrens en nou ook binne die geskiedenis­boeke. Dit is die Langebaanweg-lugskou.

Die lugmag se Silwer Valke het Sater­dag sy 50ste verjaardag met ’n skouspel­agtige program gevier.

Meer as 15 000 besoekers het by die lugmagbasis saamge­drom om vliegtuie soos die Gripen, wat deur die klankgrens gebreek het, asook die Rooivalk-helikopter en die Silwer Valke in aksie te sien. Saterdag se skou was die eerste op die basis in 22 jaar en met die Gripen se breek deur die klankgrens was dit ’n eerste vir die Weskus.

Ten spyte van die sterk wind op die dag het die vlieëniers in die rondte ge­draai, onderstebo gery en die reddings­eenheid se helikopter het gewys presies hóé dit gedoen word. Die wind het op sy sterkste teen 35 knope gewaai, maar danksy die puik vliegvernuf was dit nie ’n probleem nie. “Ons sien die geleentheid as ’n reuse­sukses. Dit is die eerste keer wat Lange­baanweg gasheer was vir só ’n geleentheid en ons kan net dankie sê vir almal wat dit moontlik gemaak het.

“Die besoeker wat die verste gery het, was glo iemand wat spesiaal 500 km gery het om die skou te kom kyk,” sê majoor Essie Esterhuysen.

Van die professionele fotograwe en mediamense wat die verste gereis het was ’n fotograaf van Engeland.

You need to be Logged In to leave a comment.