LS Vredenburg skitter in Boland

Laerskool Vredenburg het ’n goeie atletiekseisoen beleef met sewe atlete wat onlangs in die Wes-Kaap-atletiekspan opgeneem is.


Laerskool Vredenburg het ’n goeie atletiekseisoen beleef met sewe atlete wat onlangs in die Wes-Kaap-atletiekspan opgeneem is.

Die skool se atlete het gesamentlik drie goue-, twee silwer- en twee bronsmedaljes by die Boland-atletiekbyeenkoms verower wat Saterdag 29 Februarie plaasgevind het.

Die skool se aflosspanne het ook skoonskip gemaak met die aflosspan vir seuns o.10 wat ’n silwermedalje verower het asook die aflosspan van die o.12-meisies wat ook ’n silwermedalje gekry het.

Die o.13-spiesgooier Mariné Grobler het ’n rekord by die byeenkoms verbeter.

Benewens die atlete wat hard geoefen het, het ’n span onderwysers en afrigters seker gemaak al die atlete is gereed vir die byeenkomste. Die skool bedank die onderwysers Chris Nelson, Nola Brand, Talitha Blom, Nadia Thompson en Konrad Toerien wat ook diens as Boland-byeenkomsbeamptes gedoen het.

Die atlete Dillon Brown, Mcalestaire Brown, Marco Joubert, Cayleb Fortuin, OT Mngeyane, Xoliswa Khanyile en Mariné Grobler sal nou ook die Wes-Kaapse atletiekbyeenkoms bywoon.

Die skool wens hierdie sewe uitblinkers alle sterkte toe.

You need to be Logged In to leave a comment.