’n Maand ná sy verdwyning is die 19-jarige Romano Fredericks steeds nie terug by die huis nie.
Fredericks word sedert Saterdag 3 Augustus vermis. Om hul ondersteuning en omgee te wys, het die gemeenskap van Louwville Dinsdag (3 September) – presies ’n maand ná Fredericks se verdwyning – ’n gebedsaand vir dié jong man gehou.
Kerse is deur die loop van die aand aangesteek wat ’n teken van hoop gesimboliseer het en bevestig het dat die breë gemeenskap alles in hul vermoë sal doen om Fredericks weer veilig by die huis te kry.
Norman van Wyk, ’n gemeenskapsaktivis, sê ’n belofte is gemaak dat hulle sal aanhou soek en vrae stel.
“Die drukkies en aanmoediging het sekerlik die vlam van hoop in Romano se familie weer aangesteek. Ons raadslede van die Saldanhabaai-munisipaliteit wat teenwoordig was, het net nog meer sekerheid gegee dat ons hierdie keer berge sal versit om Romano te vind.”
Van Wyk voeg by dat die vlamme van hoop nooit geblus sal word nie, “aangesien die soektog na ons geliefde Romano voortduur”.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, sê die Vredenburg-polisie versoek enige lid van die publiek met enige inligting oor waar Fredericks hom kan bevind, om dit onverwyld by Crime Stop aan te meld. “Die inligting kan anoniem gegee word,” sê Helfrich.