Gruis by die kruising word as onveilig beskou. Foto: Noluvu Ludidi

‘n Inwoner het weer eens sy kommer oor die los gruis op die MR599-, OP538- en TR8051-paaie uitgespreek.

Dié inwoner vrees vir die veiligheid van motoriste – juis omdat die los gruis groot skade en ongelukke kan veroorsaak.

Volgens die inwoner het hy self al amper beheer oor sy voertuig verloor.

Volgens Stephen Heyns, ‘n woordvoerder vir die departement van infrastruktuur, het die padonderhoudspan sedert Woensdag 23 Julie alle kruisings en toegange tussen die TR08501 en MR00538 inspekteer om te verseker dat die pad skoongemaak, veilig en toeganklik is.

Hierdie is volgens die inwoner egter ‘n voortslepende probleem.

Op navraag aan die departement van infrastruktuur het Jandre Bakker, nog ‘n woordvoerder, ook bevestig dat die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur die padowerheid vir beide dele van die genoemde paaie is.

“Die vee en skoonmaak van die kruising sal deur die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM) en die distrik se pad- ingenieur se span gedoen word. Die distrikspadingenieur het die WDM opdrag gegee om die kruising te inspekteer en alle gruis skoon te maak.”

Bakker voeg by dat ondersoek ingestel sal word om die oorsaak van die gruis by die kruisings te bepaal.

“Indien dit ‘n gereelde en herhalende probleem is, sal ons versagtingsmaatreëls oorweeg om dit dienooreenkomstig die hoof te bied.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025