Loopbaan in die polisiediens – wat jy as jongmens moet weet

Met die matriekeksamen wat nou baie vinnig nader kruip, sit talle leerders wat vanjaar hul skoolloopbaan voltooi, nou met baie vrae oor waarheen die toekoms hulle gaan lei.


Met die matriekeksamen wat nou baie vinnig nader kruip, sit talle leerders wat vanjaar hul skoolloopbaan voltooi, nou met baie vrae oor waarheen die toekoms hulle gaan lei.

Hoewel baie leerders reeds by universiteite of kolleges aanvaar is, is talle steeds onseker oor hul toekomstige beroepe.

Maar daar is verskeie alternatiewe beroepe as ’n mens nie die formele naskoolse akademie wil volg nie.

Een hiervan is om ’n beroep in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te oorweeg.

Die SAPD bied loopbane in verskeie velde, hetsy as ’n polisiebeampte of ’n burgerlike werknemer.

Volgens die SAPD word polisiebeamptes ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens, 1995 (Wet 68 van 1995) in diens geneem.

Burgerlike werknemers word ingevolge die Staatsdienswet, 1994 (Wet 103 van 1994) in diens geneem. Die meeste dienende polisiebeamptes is direk betrokke by die voorkoming, bestryding of ondersoek van misdaad. Die ander polisiebeamptes verrig ondersteunende rolle.

Minimumvereistes

Volgens die SAPD moet aansoekers:
. Die amptelike aansoekvorm invul en onder eed bevestig die inligting is reg.
. Permanent in Suid-Afrika woon.
. Minstens 18 jaar oud en jonger as 30 wees.
. ’n Fisieke en mediese ondersoek sowel as ’n sielkundige assessering ondergaan.
. ’n Seniorsertifikaat- of gelykstaande kwalifikasie hê.
. Ten minste Engels en een ander amptelike taal vlot praat.
. Bereid wees om die ampseed af te lê.
. Geen sigbare tatoeëermerke hê wat strydig met die doelstellings van die SAPD is nie.
. Geen misdaadrekord hê nie.
. Sy of haar vingerafdrukke laat neem.
. Bereid wees om sy of haar agtergrond te laat nagaan, en
. Bereid wees om op enige plek in Suid-Afrika diens te doen.

’n Mens moet nie verwag om ’n miljoenêr te word as jy besluit om ’n polisiebeampte te word nie.

Jy gaan nie só goed vir jou tyd en moeite vergoed word nie. Om lid van die polisie te wees is ’n roeping en nie sommer net nog ’n werk nie. Jy sal jou tyd moet opoffer. As lid van die polisie sal jy op ’n baie jong ouderdom blootgestel word aan die onaangenaamste voorvalle wat die lewe kan opdis.

Basiese opleiding

Nuwe polisierekrute moet ’n basiese opleidingsprogram van een jaar deurloop. Die opleidingsprogram bestaan uit twee fases: Fase een behels programme in basiese opleiding en taktiese polisiëring. Rekrute kry ’n basiese maandelikse salaris, maaltye en verblyf sowel as lidmaatskap van Polmed, die polisie se siekefonds. Die tweede fase behels veldopleiding as ’n studentekonstabel in uniform en diens by ’n polisiekantoor. Dit duur ook ’n jaar.

Ná basiese opleiding

Ná die basiese opleiding begin die meeste polisiebeamptes as ’n gemeenskapsdienssentrumbeampte by ’n gemeenskapsdienssentrum werk.

Hierdie amptenare voer verskillende pligte uit soos die hantering van algemene navrae deur die publiek, die hantering van klagtes, die inhegtenisneming en aanhouding van verdagtes en patrolliediens in ’n polisiëringsektor.

Dit is beter om by ’n polisiekantoor te begin werk ten einde te besluit of jy verder wil spesialiseer.

Jy kan byvoorbeeld besluit om ’n ondersoekbeampte (speurder) te word en dan kan jy spesialiseer in georganiseerde of ernstige of geweldsmisdaad of misdaadintelligensie.

Vir diereliefhebbers is die K9-eenheid ’n goeie opsie.

Die spesialis-uniformeenhede bestaan uit die Blitspatrollie, 10111-noodsentrums, die voertuigongelukondersoekeenhede, polisieduikers, boothanteerders en gyselaar- en selfmoordonderhandelaars, of jy kan ’n polisievlieënier van vastevlerkvliegtuie of helikopters word.

You need to be Logged In to leave a comment.