Reg om hul tydjie vir hulself te geniet, is, van links, Lizelle Paul, Raquel Coetzee, Chesné Louw, Farren Coetzee en Lauren Paul. Foto’s: Blaze Buckle.

Alida Buckle

Die Longacres-privaatskool in Langebaan se vroue – mamma’s, onderwyseresse en hul vriendinne – het Saterdag (24 Mei) glansryk opgedaag vir ‘n oggend saam met die

motiveringspreker Aletté Winckler.

Sy het die gehoor laat skater met haar kwinkslae oor ma-wees en die vroue ‘n kykie gegee in haar lewe as Heinz Winckler, die eerste Idols-wenner en nou pastoor, se vrou en die ma van hul vier kinders. Benewens motiveringspraatjies is Aletté ook ‘n internasionaal gesertifiseerde voorkomskonsultant en die skrywer van selfhelp-, motiverings- en kinderboeke. ‘n Tasbare energie was vóór en ná die spoggeleentheid op die Schaftplaas-gasteplaas naby Hopefield in die lug. Die vroue was reg vir ‘n paar uur van net wees en ontspan en is by hul aankoms deur ‘n sjampanje-en-lemoensap-stalletjie begroet.

Aletté se praatjie het nie teleurgestel nie. Sy lyk opreg en eg – net haarself. Sy het die gehoor aangemoedig om tyd vir hulself te maak sodat hulle nie uit ‘n leë glas probeer daar wees vir almal om hulle nie – vandaar die oggend se tema, die “Fill Your Cup”-vroue-oggend.

Deel van die tafelversierings was pragtig versierde koekies, wat deur die huishoudkunde klas van die skool gemaak is, en ‘n heerlike kolwyntjie, Rooi- en witwyn is voorgesit en elke gas kon die spekboomstiggie by haar sitplek huis toe neem. Die sjef Anene Loubser van eat (exeptional-aromatic-tantalizing) se hoenderpastei was voortreflik, maar die verrassing van die dag was die uitsonderlike sjokoladekoeke met meringue-versiersel op elke tafel. Dit was smelt-in-die-mond-lekker. Verskeie vroue was gelukkig om ‘n gelukstrekking te wen en hulle het ook lootjies getrek vir ‘n wegbreeknaweek.

Elke vrou het van die geleentheid weggestap met baie om oor na te dink en ‘n vól glas om haar rol as ma, suster, vrou, vriendin en biegmoeder te gaan vervul.

Van links lyk Lorette Engelbrecht, Carmen-Li Bindeman, Rina Ellis en Tracy Pfister pragtig by die Long Acres-privaatskool se vrouedag op Schaftplaas naby Hopefield.
Die vroue wat die voortreflike vroueoggend gereël het, is (voor van links) die sjef Anene Loubser van eat (exeptional-aromatic-tantalizing) en Welmarie Coetzee, saam met Alet Kruger, die eienaar van die Schaftplaas-gasteplaas, agter. Hulle het die vroue- dag saam met die Long Acres Privaatskool gereël.
Die kleurvolle tafelversierings was meestal eetbaar óf, soos in die geval van die spekboomstiggie, kon dit saamgeneem word huis toe.
Aletté Winckler laat die gehoor skater met haar kwinkslae. Foto; Alida Buckle.
Aletté Winckler se beste vriendin, Sumarie Uys, het saam met haar kom kuier. Foto: Alida Buckle

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article