Lig in die tonnel ná talle klagtes oor pad by Groenkloof

’n Inwoner van Vredenburg mor al twee jaar lank oor water wat in sy erf inloop wanneer dit reën weens die swak toestand van die pad wat agter sy huis verbyloop.


’n Inwoner van Vredenburg mor al twee jaar lank oor water wat in sy erf inloop wanneer dit reën weens die swak toestand van die pad wat agter sy huis verbyloop.

Tog is hy geensins nader aan ’n antwoord of oplossing van die plaaslike munisipaliteit af nie.

Soos die inwoner verduidelik, is die grondpad agter sy huis vol slaggate wat opdam met water wanneer dit reën.

Dit veroorsaak dat die water onder sy huis invloei, wat op sy beurt muf veroorsaak.

Die inwoner verduidelik dat sy mure ook vol modderwater gespat word soos motoriste deur die poele water hul weg probeer vind.

“In die somer is dit egter droog en veroorsaak dit dat voertuie en implemente wat die pad gebruik, geweldig stof veroorsaak, wat deur die suidoostewind direk na my huis gewaai word.

“My huis en my tuin, waar ek probeer groente kweek, is gedurig onder stof.

“Dit beteken ook dat ek geen vensters en deure kan oop laat nie, want die stof kom oormatig in my huis in. Ek moet ook gereeld teen hoë koste my mure en vensters met munisipale water afspuit,” voeg die inwoner by.

Volgens Tereza Burger, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, is die betrokke toegangspad tussen Groenkloof in Vredenburg en ander woonbuurte private eiendom en vorm dit deel van Plaas 123/19.

“Die munisipaliteit beplan werk om verligting aan gebruikers te bring deur ’n wegvoer-kanaal te sny en sodoende stormwater wat op die private toegangspad staan, na die naaste stormwaterstelsel te herlei.

“Die munisipaliteit is van voorneme om hierdie gedeelte pad binne die ontwikkelingsgebied as ’n munisipale straat te laat klassifiseer.”

Burger voeg by dat dit egter ’n langsame proses is wat uiteindelik daartoe sal lei dat die pad behoorlik ontwerp en gebou sal kan word met gepaardgaande, goedgekeurde finansiering.

You need to be Logged In to leave a comment.