Vrouemaand het Maandag op ’n tragiese noot begin toe ’n liefdesdriehoek tussen drie vroue van Vredenburg in ’n moord geëindig het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, die woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het twee vroue wat voorheen in ’n verhouding was Maandagaand in ’n vurige rusie betrokke geraak glo omdat een van hulle aanbeweeg en ’n nuwe liefde gevind het.
Die nuwe vriendin (36) is geroep om te kom ingryp, maar sy het tragies haar lewe verloor toe haar meisie se voormalige vriendin (26) haar met ’n mes aangeval het.
Die slagoffer het op die toneel aan haar wonde beswyk.
Die beskuldigde is op aanklag van moord in hegtenis geneem en sy sou Woensdag 3 Augustus in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

