Lewer só kommentaar oor moontlike nuwe drankwette

Twee nuwe drank-konsepwette kan dit eersdaags moeiliker maak om drankies te geniet.


Twee nuwe drank-konsepwette kan dit eersdaags moeiliker maak om drankies te geniet.

Die Wysigingswet op Alkoholiese Drank is onlangs deur dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, bekendgestel.

Indien dié nasionale wysigingswet aanvaar word soos dit is, sal nuwe drankwinkels, kuierplekke en kroeë nie binne ’n radius van 500 m van openbare instansies handel mag dryf nie. Dit geld ook nabyheid aan skole en plekke van aanbidding asook woonbuurte.

Bestaande instansies is nie in gedrang nie, maar sal streng by voorskrifte van die Nasionale Drankowerheid (NLA) moet hou.

Saam met dié wysiging is daar ’n voorstel om die wettige ouderdom vir alkoholverbruik van 18 na 21 jaar oud te verhoog.

Jong mense tussen 18 en 20 jaar sal slegs onder toesig van ’n ouer of voog ’n “matige hoeveelheid” drank mag drink.

Drankvervaardigers en verskaffers se reklame sal nie meer op reklameborde naby openbare paaie mag pronk nie. Advertensies sal ook die negatiewe uitwerking van die produk moet uitbeeld.

Benewens die nasionale wysigingswet het die Wes-Kaapse regering vandeesmaand die Groenskrif oor Alkoholverwante Skadevermindering bekendgestel.

Martin Makasi, van die Wes-Kaapse regering het Saterdag in Hopefield by die The Power of Partnership-byeenkoms gesê die inkomste van drank regverdig geensins die uitgawes nie.

Die vervaardiging en verkoop van alkohol dra volgens die provinsie R93,2 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by. Die finansiële onkoste van alkoholverwante euwels word egter geskat op ’n verlies van tussen R245 en R280 miljard van die BBP.

Voorskrifte van die groenskrif sluit strenger wetstoepassing en meer bewusmaking in.

Ure en dae van alkoholverkope sal “ beperk” word en in ooreenstemming met die wysigingswet meen die provinsiale regering reklame van drank moet verbied word in openbare geriewe.

Lewer insette vir die nasionale wysigingswet tot 30 Oktober by 012 394 5573 of nrampele@thedti.gov.za.

Lewer kommentaar vir die provinsiale groenskrif voor of op 30 November by www.westerncape.gov.za/alcohol-harms of stuur ’n e-pos na alcohol.greenpaper@westerncape.­gov.­za.

You need to be Logged In to leave a comment.