Die stiefpa van ’n agtjarige meisie wat aan die Clanwilliam-streekhof beken het dat hy haar verkrag het, is lewenslange tronkstraf opgelê.
Die 28-jarige man se naam en van moet ná sy skuldbekentenis in die Nasionale register vir Seksoortreders ingevolge die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede), Wet 32 van 2007, aangeteken word en hy moet ingevolge die Kinderwet, Wet 38 van 2005, by Nasionale Kinderbeskerming aangeteken word as iemand wat glad nie met kinders mag werk nie.
Die hof het ook gelas dat sy werkgewer in Citrusdal in kennis gestel word.
Die stiefpa is ingevolge die Vuurwapenbeheerwet, Wet 60 van 2000, onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), is ’n deursoeking- en beslagleggingsbevel ook uitgereik vir bevoegdheidsertifikate, lisensies, magtigings, permitte, vuurwapens en ammunisie. Die hof het die assistent-registrateur en ook die registrateur van die Sentrale Vuurwapenbeheerregister van die bevel in kennis te stel.
Gewag
In sy pleitverduideliking het die kinderverkragter gesê dat hy en sy lewensmaat op 6 Julie 2023 wyn en bier in hul blyplek op die plaas gesit en drink het. Die stiefpa, sy lewensmaat en haar twee kinders het in ’n tweeslaapkamerhuis op die plaas gebly.
Hy het gewag totdat die vrou gaan slaap voordat hy die kinders se kamer ingegaan, die meisietjie se broek en onderklere uitgetrek en haar verkrag het.
Haar broer het wakker geword, waarop die beskuldigde uit die kamer gevlug het.
Mark George Taylor, die streekhofaanklaer, het ’n slagofferimpakverklaring aangevra as deel van verswarende faktore. Dit het aan die lig gebring dat die slagoffer ’n hoë vlak van kwesbaarheid het waarvan die beskuldigde misbruik gemaak het.
Die kind vrees die beskuldigde en wil hom nie weer sien nie. Sy ly aan ernstige sielkundige skade en het aggressiewe gedrag veral teenoor seuns ontwikkel. Die hof het ook gehoor dat sy verskeie gemoedsversteurings soos selfmoordgedagtes, verhoudings- en seksuele probleme kan ontwikkel as gevolg van die verkragting.
Adv. Nicolette Bell, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het die vonnis verwelkom en die feit betreur dat die beskuldigde, wat die slagoffer as ’n vaderfiguur beskou en vertrou het, haar so pynlik verraai het.
Bell het gesê alle gevalle van seksuele geweld maak inbreuk op die reg op waardigheid en privaatheid van die slagoffers.