Regter Nathan Erasmus het Kelly Smith, Boeta Appolis en Steveno van Rhyn direk aangespreek tydens hul vonnisoplegging op Woensdag 29 Mei vir die verkoop en ontvoering van Kelly se sesjarige dogtertjie, Joshlin, verlede jaar.
Hy het die beskuldigdes lewenslange tronkstraf opgelê op die aanklag van mensehandel en tien jaar op die klag van ontvoering.

Uit Errol Pietersen, ʼn proefbeampte, se voorvonnisverslae oor die beskuldigdes kon Erasmus geen rede kry om ʼn ligter vonnis as tronkstraf te oorweeg nie. Erasmus het Pietersen se verslae oor die onderhoude wat hy met Smith, Appolis en Van Rhyn by die Pollsmoor-gevangenis opgestel het, as uiters samehangend en duidelik beskryf. “Oor baie jare, is dit een van die mees omvattende verslae wat ek gesien het … in duidelikheid en denke.”
Erasmus het die wens uitgespreek dat die betroubare manier waarop Pietersen sy verslae opgestel en in die hof aangebied het, ʼn diens is wat vir almal beskikbaar kan wees.

Pietersen het in sy verslae aanbeveel dat die maksimum vonnis opgelê word. ʼn Sentiment wat die staat van die begin af gedeel het.
Erasmus het in sy vonnisuitspraak die probleem van dwelmafhanklikheid in Saldanha maar ook die res van die land uitgewys, maar gesê dat dit nie as verskoning gebruik kan word om so ʼn gruwelike misdaad, soos waarvan die beskuldigdes skuldig bevind is, te regverdig nie.
Hy het Smith, Appolis en Van Rhyn uitgekryt omdat hulle deurentyd nie berou vir hul dade getoon het en nie die hofverrigtinge ernstig opgeneem het nie.
Erasmus het ook gehamer op die feit dat hulle ʼn tenger sesjarige kon verkoop sonder om twee keer te dink terwyl hul al drie ouers is – Appolis die pa van twee dogters van vyf en elf jaar oud, Van Rhyn die pa van ʼn vyfjarige dogtertjie en Kelly ook ma van ʼn vierjarige dogter en twaalfjarige seun.
Die ongekende emosionele impak wat die hele saak op die gemeenskap van Middelpos, Diazville, Saldanha en die res van die Weskus gehad het, is nog ʼn aspek wat vir Erasmus gewig gedra het. “Ek moet optree in belang van die gemeenskap en ter beskerming van die regte van individue, veral die regte van kinders … die kwesbares in die samelewing,” het hy gesê. “Die samelewing, gemeenskap van Saldanha is uitmekaargeskeur.”
Erasmus het ook die gemeenskap se uitroep na vergelding gehoor en besef dat die beskuldigdes sou moes betaal vir hul dade.
Edna Maart, wat in 2023 Joshlin se gr.R-onderwyseres by Diazville Primêr was, se slagofferimpakverklaring het Erasmus se hart aangeraak, so ook dié van Kelly se ma, Amanda Daniels.

Hy het gesê sy regspraak was nie gemik op handboeke en die akademie nie, maar het uitsluitlik die doel gehad om aan die beskuldigdes te verduidelik wat sy oorweging tot hul uiteindelike lot was. Hy het ook probeer om genadig te wees en die toepaslike sosiale omstandighede te balanseer met die erns van die misdryf.
Met die vonnis wou Erasmus die beskuldigdes afskrik van weer te oortree, maar hy wou ook ander afskrik wat daaraan dink om die morele waardes van die samelewing te ondermyn.
Volgens Pietersen se verslag, wat ook in die vonnisoplegging deur Erasmus aangehaal is, blameer Kelly haar ouers vir haar eie gedrag in hierdie saak. “Jy het geen aanduiding van berou getoon, behalwe met een vorige geleentheid en gister nie. Kelly het gesit en snik terwyl die slagofferimpakverklarings op Woensdag 28 Mei voorgelees is.
“Jy het die helpende hand wat jou ma en familie na jou toe uitgesteek het, op ʼn dreigende manier weggestoot. Ek vind geen versagtende omstandighede nie.”
Hy het ook verwys na haar gesprek met Philip Coetzee in Augustus 2023 waarin sy aangedui het dat sy van haar kind ontslae wou raak sodat sy en Boeta ‘n beter lewe kon hê. “Hoe gevoelloos is dit?” Hy meen die insident waar gesien is hoe Kelly Joshlin hardhandig na die hut in Middelpos sleep, soveel so dat haar een plakkie uitgeval het, blyk nie ‘n geïsoleerde geval te gewees het nie. “Jy blameer ander omdat jy jou kind as ‘n kommoditeit behandel en haar verkoop het.”
Erasmus het Appolis daaraan herinner dat hy uit ʼn goeie huis gekom en kanse in die lewe gehad het, maar dat hy dwelms gekies het.
Van Rhyn het moeiliker grootgword, hoewel sy ma oor hom omgegee het. Erasmus het gesê Van Rhyn het ʼn kans tot rehabilitasie gekry, maar dwelms en ʼn lewe van misdaad gekies en glad nie omgee oor waar Joshlin haar bevind nie.
Erasmus het beklemtoon dat hy wil hê die beskuldiges moet die erns van die oortreding verstaan. Dat hulle Joshlin as ma, vaderfiguur en vriend in die oë gekyk en verkoop het. Hulle het haar vertroue in hulle as haar beskermers verraai.
Een positiewe ding wat volgens Erasmus wel uit die saak gespruit het, was hoe die gemeenskap verenig en saamgestaan het ter verdediging van kinders. Hy het weer die gemeenskap van die Weskus geloof oor hoe gedissiplineerd hulle deurentyd gedurende die hofverrigtinge in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, was sedert die verhoor in Maart hier begin het.
Erasmus het ook die staat se versoek toegestaan dat Smith, Appolis en Van Rhyn se name in die Nasionale Kinderbeskermingsregister ingeskryf word.

Lt.-genl. Thembisile Patekile, polisiekommissaris van die Wes-Kaap, en Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het ook die vonnisoplegging bygewoon.
Patekile het die toegewyde polisie-ondersoekspan en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hartlik gelukgewens. “Gedurende hierdie moeilike en emosionele reis het die polisie onwrikbare toewyding, professionaliteit en ‘n standvastige strewe na geregtigheid getoon. Hul noukeurige ondersoekwerk het nie net aanspreeklikheid aan diegene wat verantwoordelik is, gebring nie, maar ook die beginsels van geregtigheid en die oppergesag van die reg in ons samelewing herbevestig.
“Alhoewel geen vonnis die pyn wat deur die hartverskeurende verdwyning van die jong Joshlin veroorsaak is, kan uitwis nie, bied hierdie uitkoms ‘n mate van afsluiting en stuur dit ‘n kragtige boodskap: misdade teen ons mees kwesbare burgers sal nie ongestraf bly nie.
“Dit is belangrik dat die soektog na Joshlin nie afgelas is nie, en die polisie bly ten volle daartoe verbind om elke moontlike leidraad te ondersoek in die nastrewing van ware afsluiting in hierdie tragiese saak.” Saam met sy bestuurspan, prys hy elke beampte, speurder en spesialis wat by hierdie saak betrokke is.
Staatsgetuie Lourentia Lombaard sal binnekort hoor wat haar toekoms inhou, wanneer sy in die hooggeregshof in Kaapstad voor Erasmus sal verskyn. Die datum moet nog aangekondig word. Hy het wel net daarna verwys dat sy ook, nes die ander drie gereeld vir Joshlin by haar huis gehad het, maar steeds niks gedoen het om die verkoop of ontvoering te keer nie.

Die verdediging, Fanie Harmse vir Appolis, adv. Nobahle Mkabayi vir Van Rhyn en Rinesh Sivnarain vir Smith, het aangedui dat hulle teen die vonnis gaan appèlleer.
You must be logged in to post a comment.