Die Here het meer as twee jaar gelede ‘n visie van ‘n liefdadigheidsorganisasie vir Louwville, Vredenburg, op ‘n groep Louwvillers se hart kom lê.
Daarna is die Lethemba Care Project op 28 Januarie 2023 saam met ‘n groep toegewyde vrywilligers gestig. Lethemba is vandag reeds ‘n vertroude naam in gemeenskapsontwikkeling – veral onder jongmense, vroue, bejaardes en die kwesbares in nood.
Die bekende motiveringspreker en seremoniemeester Petra Mei Ebete het die stigtingsvergadering ingelui. Die oorspronklike stigterslede was onder meer Gereldo “Jerry” Pieters, voorsitter; Nonethea “Suster Flonsie” Louw, wat die programme koördineer; Helga van Hooi, ‘n onderwyseres by Panorama Primêr; Rank Swarts, die eerste tesourier, en sy vrou, Petro, wat help by die restourasieprogram. Hulle het die behoeftes in die gemeenskap identifiseer en op vier programme besluit.
Die sopkombuisprogram verskaf twee keer per week warm, gebalanseerde maaltye aan behoeftiges en bejaardes. Die sopkombuisis is egter nie net ‘n kosprojek nie, maar ook ‘n “gemeenskapsanker”. “Ons gee kos, ja, maar ons gee ook omgee, ondersteuning en ‘n gevoel van behoort. Dis waar mense weer begin droom,” sê Pieters.
Die vrywilligers help ook gemeenskapslede met lewensvaardighede. As deel van die vaardigheidsprogram kry gemeenskapslede én vrywilligers basiese rekenaaropleiding in vennootskap met Arcelor Mittal se wetenskapsentrum.
Die jeugprogram verskaf leierskapsopleiding aan laerskoolleerders – op die oomblik nog net aan die leerlingraad van Panorama Primêr.
Dit is ‘n geleentheid waar Pieters graag groei sou wou sien sodat die jeug ook ná skool geholpe kan raak.
Lethemba se restorasieprogram staan mense by wat van dwelmmisbruik probeer rehabiliteer en die vrywilligers staan ook slagoffers van geslagsgebaseerde geweld by.
Volgens Pieters spruit die projek uit die groot armoede en werkloosheid in die gebied. Die groot aantal kinders wat skool te vroeg verlaat, is ook vir hom ‘n bekommernis en hy sou graag vir die jeug meer geleenthede wou bied.
Lethemba se kernvisie is om ‘n hoopvolle, regverdige en bemagtigde omgewing te skep waar elke inwoner met waardigheid kan leef en hul volle potensiaal kan bereik – “ ’n lig in donker tye”. Hul werk rus op die waardes van die herstel van waardigheid, voeding van lewe, bemagtiging van die jeug en die bou van toekomsdrome.
Lethemba word op die oomblik deur ‘n raad van vyf lede bestuur.
Almal doen die werk vrywilliglik, sonder betaling. Die programme word gelei en uitgevoer deur ‘n lojale groep vrywilligers wat ook geen geldelike vergoeding vir hul tyd en moeite kry nie.
Pieters se toekomsblik sluit in dat Lethemba betalende werksgeleenthede vir die vrywilligers sal kan bied. Die programme word tans van ‘n woonhuis bestuur, waar ‘n kantoor ingerig is en die kos vir die sopkombuis voorberei word. “Die ruimte is beperk en daarom wil ons graag ons eie gebou hê,” sê Pieters.
Lethemba het skenkings van kantoortoerusting soos kantoorstoele en tafels gekry, maar hulle benodig byvoorbeeld ink vir die geskenkte drukker en het nog nie ‘n rekenaar nie.
Die sopkombuis kan twee keer ‘n week kos gee weens die weeklikse skenkings van die OK Minimarket Vredenburg, PnP Vredenburg en die Louwville-
supermark.
Pieters het ook spesiale waardering uitgespreek aan die Hopefield Wind Farm Local Community Company, wie se ondersteuning dit moontlik gemaak het om hul reik te verbreed en die impak te verdiep. “Ek kon dit nie alleen doen nie en vra hulp om die visie te volvoer.”
Pieters sou graag daagliks aan die bejaardes en behoeftiges wou kos gee, maar kort veral droë nie-bederfbare produkte. “Onse mense kry swaar.”
Lethemba is ‘n organisasie sonder winsoogmerk, wat by die departement van maatskaplike dienste geregistreer is.
Tussen 21 Februarie en 5 April het Lethemba danksy borge 12 voedingsdae gehad, 2 816 mense bedien, kos- en aartappelpakke aan 82 gesinne uitgedeel, klere aan 27 inwoners van die Sisonke-werksessies voorsien, toebroodjies aan 45 mense by die Louwville-kliniek uitgedeel en tien jongmense met behulp van die Bakgat-teater na hul eerste teaterervaring geneem.
Pieters sou graag met omgewingsinisiatiewe wou begin, soos groentetuine en herwinningsbewustheid en wil gesins- en trauma-ondersteuning op ‘n volhoubare basis verskaf.
“Ons is ‘n klein maar vasberade organisasie wat nie net kos na die tafel bring nie, maar ook hoop na harte. Of jy wil skenk, saamwerk of net jou tyd en vaardighede wil aanbied, kan jou betrokkenheid ‘n lewe verander,” sê Pieters.
• Bel Pieters by 083 766 4922 vir navrae en om betrokke te raak.


