Daar word altyd gesê met terugskouing het ’n mens ’n 20/20-visie.

Dit is maklik om te weet wat die regte optrede sou gewees het as jy reeds weet wat die toekoms gaan inhou. Dit is egter baie moeiliker om die toekoms akkuraat te voorspel van waar jy nou sit. Victoria Reuvers, direkteur en senior portefeuljebestuurder van Morningstar-batebestuur, gee twee belangrike wenke vir die beste beleggingsgeleenthede vir 2020.

Moenie dat slegte nuus en emosies jou beleggings dikteer nie

“Daar is elke jaar slegte nuus, drama­tiese koerantopskrifte en kommerwek­kende kwessies. ’n Mens kan aanvaar dit sal in 2020 ook so wees.”

Maar om op elke brokkie nuus te reageer, is een van die slegste dinge wat ’n belegger kan doen. “Beleggers sal daarby baat vind as hulle onthou dat onsekerheid oor die toekoms waarskynlik reeds by hul bates ingeprys is,” sê sy.

Vermy berou en afguns

Hoewel kitswenke oor beleggings wel soms tot ’n vinnige wins kan lei, bly ’n langtermynstrategie beter. “Daar sal altyd iemand, een of ander fonds, en een of ander aandeel wees wat beter gevaar het as joune. Vrees en paniek kan daartoe lei dat beleggers foute met hul geld maak.”


Wat hou 2020 vir aandele in?

“Terwyl niemand kan voorspel wat dié jaar sal bring nie, is die beste ding wat beleggers kan doen om gedissiplineerd te bly, op waardasies te fokus en geleenthede te identifiseer in ongewilde maar goed geprysde bateklasse.

“In hierdie konteks moet wisselvallige pryse verwelkom word. ’n Daling in die prys kan geleenthede skep vir bestuurders wat kontant hou om bates te koop wat aansienlik ondergeprys is vergeleke met hul billike waarde op lang termyn, en sodoende die saad vir toekomstige opbrengste saai.”

Reuvers waarsku egter dat die invloed van die handelsoorlog tussen die VSA en China op markte nie buite rekening gelaat moet word nie. Dit kan ’n invloed op wêreldwye groei hê. Sy sê Amerikaanse aandele is reeds duur en dus het Morningstar blootstelling begin bou in ongewilde markte soos Britse aandele, en Japanse en Amerikaanse kontant. – Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.