Lente bring moontlikhede

Ons bevind ons in die negende maand van die jaar, met 1 September wat Sondag met groot opgewondenheid ingelui is toe die eerste teken van lente sy opwagting met ’n parmantige sonnetjie gemaak het.


Ons bevind ons in die negende maand van die jaar, met 1 September wat Sondag met groot opgewondenheid ingelui is toe die eerste teken van lente sy opwagting met ’n parmantige sonnetjie gemaak het.

Weslander was in die bevoorregte posisie om twee dae vroeër, op Vrydag 30 Augustus, sy Vroueoggend ook in gunstige weerstoestande aan te bied. Alhoewel die sosiale kalender in Augustus propvol vroueoggende ter viering van Vrouemaand is, wou ons dié geleentheid vanjaar ’n bietjie later hou om met die afsluiting van Vrouemaand ook die nuwe seisoen te verwelkom. Dus die tema: ’n Oggend van kleur.

Die oggend het aan elke vrou teenwoordig die geleentheid gebied om voorraad te neem, die winter in hul lewens vaarwel te roep en hulself oop te stel vir die nuwe moontlikhede wat saam met ’n nuwe seisoen kom.

Die gasspreker, Marciel Hopkins, het die vroue geïnspireer en bemoedig met haar praatjie oor haar eie reis na self-liefde en liggaams-aanvaarding. Sy het praktiese wenke gedeel vir ’n hupstoot in selfvertroue – iets waarmee vroue so dikwels sukkel met die verskillende boksies waarin hulle probeer pas.

Een ding is vir seker – almal het ligter daar weggestap.

Ons bedank weer eens elke vrou wat ’n kaartjie gekoop en elke borg wat ’n bydrae tot die oggend se sukses gelewer het. Dit het voorwaar weer ’n gemeenskapsgevoel – een van susterskap – aangewakker. Dit het aan vroue wat dikwels so onbaatsugtig hul eie tyd opoffer met die verskillende rolle wat hulle moet vervul, die geleentheid gebied om net weer vrou te wees, geweef in haar eie identiteit, terwyl nuwe vriendskapsbande gevorm (en versterk) kon word.

You need to be Logged In to leave a comment.