Legendariese deurtrekkers op Paternoster

Met suggestiewe ronde koppies in Tietiesbaai en die Panty Bar waar fyn deurtrekkertjies teen die dak pryk, moet Paternoster seker ’n vrou wees.


Met suggestiewe ronde koppies in Tietiesbaai en die Panty Bar waar fyn deurtrekkertjies teen die dak pryk, moet Paternoster seker ’n vrou wees.

Dis ook die vissersvroue van hierdie dorp wat vir hul mans bid wanneer hulle see toe gaan, want soms gee die see nie terug nie. Die gebed, Die Onse Vader, is ook bekend as Paternoster in Latyns.

En dis hoe die dorp sy naam gekry het . . . of altans, so lui een van die ou legendes.

Só gepraat van vroue en benamings – ’n pasgetroude bruidjie se witte­broodsbroekie het die Panty Bar in 1973 sy naam gegee.

Die afgetrede hoteleienaar, Johan Carosini, vertel dat hierdie bruidjie en haar bruidegom die aand ná hul troue in die kroeg gekuier het. Johan het die bruid gevra of hy haar “wittebrood­spanty” teen die dak kan hang. En só het die eerste broekie sy plek in die kroeg gekry.

Die versameling het vinnig gegroei.

Teen 1983 was die kroeg vol onderklere en mense het na die Panty Bar gestroom om dié stoute tentoon­stelling te aanskou. Bekendes soos die storieverteller Tolla van der Merwe, die oudpresident FW de Klerk, die bekende sanger en akteur wyle Gé Korsten, Springbok-rugbyspelers en
-breiers en verskeie ministers het oor die jare die Panty Bar se drumpel deurgetrap.

“Daar is te veel om op te noem,” spog Johan. “As die liewe onse Vader self ’n draai hier sal kom maak, kan ek met sekerheid sê almal wat bekend is, was al hier.”

Maar die Panty Bar se suksesverhaal is nie sonder ’n goeie dosis terugslae nie. In die 1980’s het ’n predikant van die NG Kerk Vredenburg tee by die hotel gedrink en deur die kroeg na die toilette gestap.

“Sy oë was so groot soos pierings,” vertel Johan. Skaars twee ure later het drie “blou baadjies” aan die hotel se deur kom klop. Een van hulle was kaptein Kwaaitjie Laubscher.

Hy was glo erg verleë om Johan, ’n goeie pêl van hom, te vra om die onderklere uit die kroeg te verwyder.

’n Uitgerekte hofsaak later is die broekies en bra’s met ’n swaar hart van die plafon verwyder en gebêre.

Johan kon nie verstaan hoekom poppe in winkelvensters met onderklere kan staan en pronk terwyl hy nie toegelaat is om broekies in sy kroeg te hang nie.

Die polisieman wat die saak teen die kroeg gedryf het, staan vandag nog as ou Panty Basson bekend.

In die 1990’s, nadat gemoedere oor die berugte Panty Bar afgekoel het, het Johan se seun, Giorello Carosini, die huidige eienaar, weer met ’n panty-versameling in die kroeg begin.

Dié keer het niemand boe of ba oor die kroeg gesê nie en dié wat wel iets sleg oor die onderklere te sê gehad het, moes volgens Johan maar net uit die kroeg uit bly.

Vroue gee vandag nog hul broekies aan die Panty Bar sodat dit uitgestal kan word.

Kom maak ’n draai by die kroeg, drink ’n Panty Bar Jar (’n geheime resep) en as jy dapper genoeg is, skenk jou deurtrekkertjie.

Dié wat hulle oor higiëne bekommer, kan kalm wees – die broekies word darem elke maand afgehaal en gewas voordat hulle weer netjies opgehang word.

You need to be Logged In to leave a comment.