Leesstof vir die jongspan . . . dis vakansie!

Met die winter wat almal behoorlik in sy ysgreep het, het die tyd vir kaggelvuur, warm sjokolade en die winterskoolvakansie nou aangebreek.


Met die winter wat almal behoorlik in sy ysgreep het, het die tyd vir kaggelvuur, warm sjokolade en die winterskoolvakansie nou aangebreek.

Om seker te maak die jongspan bly besig (en weg van die televisie en rekenaar), het Petronell Vorster namens Afrikaans.com die nuutste en lekkerste leesstof gaan uitsnuffel.

Voor daar egter weggespring word met die lys, lees eers waarom dit belangrik is dat kinders moet lees.


Rede tot kommer

Dis geen geheim dat Suid-Afrika se opvoedkundige stelsel ’n krisis beleef nie. In 2017 het navorsing deur die Universiteit van Pretoria (UP) bevind agt uit 10 graad 4-leerders nie op ’n gepaste vlak kan lees nie. Hierdie bevinding is gemaak deur navorsers van die sentrum vir evaluering en assessering aan die universiteit en hul bevindinge is gegrond op die nuutste navorsing van die Progress International Reading Literature Study (PILS), ’n internasionale vergelykende studie van jong kinders se leesvermoë. Suid-Afrika het in dié 2016-PILS-navorsing laaste uit 50 lande gekom.


Maar waarom is dit so belangrik dat jou kind moet lees?

Om dit eenvoudig te stel: Lesers is presteerders. Wanneer jou kind leer lees en skryf, begin hy verstaan hoe om te lees. Maar hoe ouer kinders word, hoe belangriker word dit dat hulle moet lees om te verstaan. Daar is ernstige gevolge vir kinders wat sukkel om te lees. Dit is onvermydelik: ’n Swak leser word ’n sukkelende leerder.

Lees se voordele strek ook baie verder as die klaskamer. Lees bou ’n woordeskat en verbeter die leerder se spelvermoë, dit verbeter konsentrasie en help ons ontspan en kan selfs ’n sosiale aktiwiteit wees (soos boekklubs). Lees verbeter ook jou algemene kennis en stel jou aan nuwe dinge bloot.

Moet ook nie in die slaggat trap van “My kind is nie ’n leser nie”. ’n Liefde vir lees is iets wat jy aktief by jou kind moet aanleer. Natuurlik gaan jou kind nie van lees hou as hy of sy nie gemaklik daarmee is nie. Hoe meer jou kinders lees, hoe beter gaan hulle word en hoe meer gaan hulle wíl lees.


Vakansieleesstof

Daar is geen tekort aan goeie Afrikaanse kinder- en jeugboeke nie. Dit is trouens hierdie leesmark in Suid-Afrika wat die vinnigste groei. Die meeste van Suid-Afrika se uitgewers se webtuistes is ook baie gebruikersvriendelik en hulle maak dit vir jou maklik om ouderdomgepaste leesstof vir jou kind te vind. Jy kan ook hierdie boeke direk van die uitgewers af bestel.


Graad 1-3:


.
Die Zackie Mostert-reeks
, Jaco Jacobs, LAPA-uitgewers.

Hierdie reeks is gemik op beginnerlesers en Zackie Mostert se avonture is genoeg om enige kind verder te laat wil lees.

.
Vakansiepret-reeks, Theresa van Baalen, LAPA-uitgewers.

Die Vakansiepret-boekies is gemik op jonger meisies en vertel die storie van Jana en Alisha se vakansie-avonture.

.
Lillie die heksie–reeks, Amelia de Vaal (vert.), Protea-boekhuis.

Volg die avonture van Lillie die heksie wat gedink het sy is net ’n gewone meisie. Op ’n dag ontdek sy ’n towerboek langs haar bed.

.
Klapper die drakie-reeks, Ingo Siegner, NB-uitgewers.

Klapper se avonture is reeds in meer as 23 tale vertaal. En watter kind wil nou nie ’n verhaal lees waarvan die held ’n draak is nie.


Graad 4-7

.
Die Swart Kat-reeks, Chris Sasner, Protea-boekhuis.

Hierdie ou gunsteling spog nou met ’n nuwe baadjie om ’n nuwe generasie jong lesers ook te lok.

.
Rillers-reeks, Francois Bloemhof, Lizmar-boeke.

Francois Bloemhof se Rillers-reeks is ’n Afrikaanse alternatief vir die Goosebumps-boekies en is grillerig genoeg om enige kind se aandag te hou.

.
Stalmaats-reeks, Lize Roux, LAPA-uitgewers.

As jou kind perdemal is, is dié reeks vir haar. Volg die avonture van die maats by die Dagbreek-ryskool in hierdie opwindende reeks.

. Die @Thomas-reeks, Carina Diedericks-Hugo, LAPA-uitgewers.

Hierdie aksie-avontuurreeks van Carina Diedericks-Hugo volg die avonture van Thomas, ’n tiener­seun wat skelms beter kan vastrek as enige gesoute polisieman.


Hoërskoolleerders:

.
Asem, Jan Vermeulen, LAPA-uitgewers.

’n Aangrypende grootwordverhaal oor verslawing, tweede kanse en wat dit beteken om jouself waarlik te vind.

.
Fanie Viljoen, LAPA-uitgewers.

In hierdie aweregse, doller-as-kop-af- spanningsverhaal loop dinge in regte Tarantino-styl skeef en die leser moet behoorlik aan sy sitplek vasklou om by te bly met al die naelbytaksie.

.
Al wat ek weet, Marita van der Vyver, LAPA-uitgewers.

Die verhaal van die probleemkind Gabriel. Gabriel is 15 going on 50 (volgens sy ma) en in die verhaal kom woorde tot sy redding.

.
Blou is nie ’n kleur nie, Carin Krahtz, Tafelberg.

Hierdie boek is in 2018 met die M.E.R-prys vir jeugliteratuur bekroon en vertel die verhaal van die 16-jarige Vicky Vorster. In hierdie jeugboek kulmineer vrese oor die toekoms, disfunksionaliteit en ander bagasie van gesinslede in een meesleurende, ontstigtende verhaal.

.
Soen, Jan Vermeulen, Tafelberg.

Jan Vermeulen is bekend vir die relevante temas van sy jeugromans. Soen is sy derde in hierdie genre.

You need to be Logged In to leave a comment.