Die leerders van Steenberg’s Cove Primêr het onlangs die Langebaanweg-lugmagbasis besoek.
Die leerders het na ’n hondevertoning gekyk en geleer oor die verskillende “grade” waarin honde kan wees. Met die vertoning het die leerders gesien hoe ’n jong hond in “graad 1”, Metta, geleer is om gehoorsaam te wees en na sy hanteerder te luister.
Die honde in “graad 2” was gehoorsaam en kon behoorlike instruksies uitvoer as hy na sy eienaar se stem luister.
Die hond in “graad 3” was ’n Belgiese herdershond. Dié hond het foutloos ’n hindernisbaan voltooi en is ook geleer hoe om aan te val as ’n verdagte nader kom.
Leerders het gesien hoe die “skelm”, wat gelukkig beskermingsklere aangehad het, platgetrek en gebyt word wanneer die eienaar hom loslaat.
Volgens die leerders was die “hondegebed”, wat die honde bid dat hul eienaars asseblief altyd mooi na hulle sal kyk en hulle nie die verkeerde dinge leer nie, een van die hoogtepunte.
Die honde word ook die verskil tussen groen en rooi gas geleer en sodoende weet hulle dan wanneer daar mense gered moet word. Die kinders weet nou ’n hond kan ’n vriend wees en kan help wanneer daar ’n gevaar is.
Die hele besoek het goed aangesluit by die lewensvaardigheid-kurrikulum van graad drie wat handel oor “Hoe diere mense help”.
Leerders het ook die geleentheid gehad om die lugmagbasis se brandweerwa van nader te bekyk. Die beamptes op die basis het die geleentheid gehad om allerhande vrae te beantwoord.
Van die leerders het die brandweerpakke aangetrek en met die brandweerslang gewerk. Hierdie deel van die uitstappie het by die leerders se les oor veiligheid gepas.
“Baie dankie aan beampte Van Rensburg dat hy alles so mooi aan die jongspan verduidelik het. Baie dankie aan almal wat hul tyd opgeoffer het om hierdie dinge vir ons te leer. Dit is die soort uitstappie wat ek vir elke graad 3-klas sal aanbeveel. Goed georganiseer, suksesvol, prakties en op die leerder se vlak. Baie dankie aan die organiseerder, sersant Koopman. Julle is die beste,” meen juffrou Lizette Hansen.