Die internet kan ’n gevaarlike plek vir kinders wees.
Tog word vandag se kinders in ’n tyd groot waarin toegang tot die internet en sosialemediaplatforms noodsaaklik geraak het.
Kinders kan nie meer van die internet af weggehou word nie, maar moet ingelig word om dit veilig te gebruik, net soos hulle waterveiligheid en padveiligheid geleer moet word.
Gawie Smit, ’n kliniese sielkundige van die Weskus, deel graag sy professionele mening oor kinders se gebruik van selfone, die internet en sosiale media met Weslander se lesers.
“Gegewe die tyd waarin ons lewe, behoort ouers nog meer as ooit tevore by hul kinders betrokke te wees,” sê Smit.
Hy reken die meeste ouers is nie genoegsaam ingelig en bemagtig om hul kinders in hierdie tyd van morele verval veilig te hou teen die gevare van die internet nie. Dis daarom belangrik dat ouers hulself met kennis bemagtig.
Hy sê ook daar is ’n groot leemte in skole wat die aanleer van lewensvaardighede betref.
“Daar is groot voordele, maar ook groot nadele, aan selfone. Dit kan as beveiligingsmiddel gebruik word, maar kan ook misbruik word.”
Smit se raad aan ouers:
– Ouers moet altyd toegang tot ’n kind se selfoon hê,
– ’n Kind se regte en privaatheid moet ook deur sy ouers gerespekteer word, maar ’n dagboek of selfoon mag nagegaan word wanneer dit in die beste belang van die kind is.
– Wees paraat vir onderliggende ongelukkigheid by jou kind.
– Jy moet jou kind inlig dat jy enige tyd lukraak sy of haar selfoon of internet-soekresultate sal nagaan.
– Wees versigtig vir ’n outokratiese ouerskapstyl. Kinders van vandag is baie meer ingelig en wys as vorige geslagte,
– Dit kan dalk vir ouer geslagte vreemd klink, maar dit is belangrik om met jou kind oor sake te kan onderhandel, veral ook ten opsigte van sy internetgebruik en selfoon.
– Lig jou kind genoegsaam in oor die gevare van die internet en sosiale media, sodat hy nie iemand se prooi word of deur ander geboelie sal word nie.
– Moenie self ’n geestestoestand by jou kind diagnoseer nie. Ouers oorreageer maklik.
– Kinders praat soms makliker met ’n sielkundige as met hul ouers. As jy nie seker is of jou kind professionele hulp nodig het nie, onthou net, dit kan nooit skade doen nie.
– Die gebruik van ’n selfoon moet ouderdomsgepas wees.
– As jy onseker is oor wat die ouderdomsgepaste gebruik van die internet vir jou kind beteken, nader gerus ’n professionele mens vir raad.
Skakel Smit by 083 303 5318.


